BlogsDie WoestynrotOpinion

Dis tyd vir goeie mense om die regte ding te doen – The Devil’s Advocate

So 'n laaste fluistering aan die Faceboekvegters wat so skreeu vir die herinstelling van die doodstraf.

“Ja, wel. Die inhuldiging is verby, en die valskermspringers het klaar die mortierpype krom geval, en die vertoning SA Mzanzi for sure gaan voort, al is dit met ‘n nuwe stuurspan aan die roer. Of is dit?

Suid-Afrika is ‘n land in oorgang en verskuiwing. Doelpale skuif, en modus operandi verander, en mense word gedwing om meer veelsydig te wees as dertig jaar gelede. Gaan Fly Cy se nuwe kabinet meer doeltreffend wees as die konglomeraat wat hy by die Zuminator geërf het? Waarskynlik nie.

Wetstoepassing gaan een van ons mees eiesoortige kopsere word, en hier verwys ek na die twee onskuldige kinders wat enkele dae gelede in ‘n bakkie langs die pad skynbaar vir die grap afgemaai is. Die reaksie op sosiale media op hierdie gruwel was tekenend van mense se gevoel. Ons is nie meer goedgelowig en vrygewig soos vroeër nie. Ons is kwaad, en die donker strome op sosiale media wys dit.

Hoe gaan ons dit omdraai? Dis eintlik makliker as wat jy mag dink. Kyk na mekaar. Gee om vir mekaar, want môre, oormôre kap die donker wolf dalk aan jou ruit. Mense se inisiatiewe op WhatsApp met noodgroepe het baie resultate afgelewer wanneer noodsaaklik was. Wees goed vir jou buurman, help ‘n vreemdeling in die nood, maar bowe alles, help jouself. Kyk wyd, en sorg vir jouself en jou geliefdes.

Wie gaan jy in die donkernag roep as daar drama op jou werf is? ‘n Groep toegewyde mense wat op hulle selfone moniteer, of ‘n aanklagkantoor wat bes moontlik nie eers gaan weet waar jy is nie?

Daar was ou dae wat die manne met hulle gunne in troppe kom aanmeld het as ‘n broer om hulp vra. Ons het al hier plaaslik gesien hoe laat waai die lede, en hoe gesteelde beeste teruggekry word, en sommer net die versekering dat indien jy in jou huis aangeval word, hulp net ‘n WhatsApp of ‘n spoedbelknoppie ver is. Ons polisie het hulle eiesoortige probleme, en hierdie soort van optrede van die burgery kan net tot goeie dinge lei.

Ek onthou ‘n regter wat eendag, lank terug, in sy hof aan die teenwoordiges gesê het, “Gaan huis toe, en wees goed vir mekaar.”

Dis al. Wees goed vir mekaar. Wie anders dink jy gaan goed wees vir ons? Donald Trump? So ‘n laaste fluistering aan die Faceboekvegters wat so skreeu vir die herinstelling van die doodstraf. Wil jy regtig daardie mag aan ‘n regstelsel en regering gee wat vandag ‘n man tien jaar trunk toe kan stuur omdat hy ‘n oortreder in ‘n doodskis bang gemaak het?

Of daardie vrou twee jaar tronk toe vir crimen injuria gestuur het..? Werklik…? Kom ons dink tog ‘n bietjie oor al hierdie dinge, en probeer ons eie optredes meer doeltreffend en doelgerig te laat gebeur. Daar is baie goeie mense daar buite. Regtig.

Ons moet dit net besef, en uit ons gemaksones begin dink. Dit kan net te goede werk.


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button