BlogsDie WoestynrotOpinion

Devil’s Advocate – Bang Poliesmanne, paddaslyk en spesiale magte-spinnekoppe…

Ek dink hulle koggel dalk my ou wederhelf, want sy sien hulle ure voor my raak

Manne. Net toe jy dag dis veilig om weer in die see te gaan swem. In die dae toe Dundee Toyota nog Brayton’s DIY was, en die Boulevard nie ‘n heining omgehad het nie, kon jy nog ‘n fliek by Peter Davey se shop gaan huur het sonder om te wonder waar jy gaan parkeer, en of jy weer jou kar gaan terugkry.

Die raadsale van die dorp is in ‘n vloeibare staat, en die burgers van Vryheid het almal loopmaag van iets. Man wonder mos maar as jy so aan die hardloop gaan. Die toiletpapier raak op (of kliphard…!) en hierdie ou sakie raak ‘n bitterlike stink spul.

Edele raadslede pleeg toorkuns om vrae te probeer antwoord, en die gepeupel brom.
Ek kan nou al sien as die Tarentaal een van sy dooie skermonkelkatte in die dam gaan smyt, en al daai hoogedeles daar op die eerste vloer begin in hulle klere mors wanneer hulle moet meeting hou….

Die gepeupel is al flou gemors. As jy weer een oggend vroeg-vroeg met jou stressballetjie en jou John Deere – tekkies gaan draf, vang so ‘n groot hap van die oggendlug. Jy gaan die frustrasie proe. Veral hier aan die Transvaalkant van Dundee. Daar waar hierdie poelieste net kom as hulle bakkies papwiele met die deurjaag kry.
Selfs hierdie helse groot reënspinnekoppe is deurmekaar. Ek wonder of mens ‘n spesiale skool vir hulle kan oopmaak….? Ek sal hulle moet leer, want teen die tempo wat mevrou hulle van die gras afmaak, gaan hulle binnekort meer bedreigd wees as SAP-lede.

Sien, die ou sakie staan mos maar so: Hierdie hondaaklige spinnekoppe het mos ‘n manier om te verskyn waar jy hom net op die laaste oomblikkie sien.

Ek dink hulle koggel dalk my ou wederhelf, want sy sien hulle ure voor my raak. Dis mos waar sy tot die aanval oorgaan, maar as een van hierdie boepensgoggas deur een van hierdie rooivlerkwespes verlam is, dan vlug sy.

Die verdomde ou bytjie is nogal hoogs aggressief. Amper soos ‘n Ulundi TRU-polisieman. As jy dan nou jou oorpakbroek se pype opgevou het onder, dan vorm hy ‘n tóg te lekker wegkruipplekkie vir hierdie vermaledydse spinnekop. Jy loop die hele verdomde dag met daai spinnekop rond, en jy weet dit nie.

Veral as jy hom met die besempie van jou werksblad afgevee het, en hy loop val in jou broekspyp. Bloedvannerwalt.
Veral by die ou middagkoffietjie waar jy effe gaan agteroor sit, en die duiwelsding besluit om te hol. Ai, ek sal maar nie sê wat alles gebeur het nie, maar ek maak nog steeds meubels reg. Ons het darem die vloer skoongekry. Die hond is egter nog weg.

En dit help nie eers jy bel die polieste nie.

Hierdie lot van ons moet deesdae eers by Ulundi TRU toestemming kry voordat hulle uit hulle stasie mag kom. En dan praat ons nie eers van die aand waar die Aai-Eff-Pie hulle een aand so bang gaan toi-toi het dat hulle op WhatsApp om hulp gehuil het. Red nou ‘n volk…

Related Articles

 
Back to top button