BlogsDie WoestynrotOpinion

Devil’s Advocate – “Die Onuithoudbare Gemaklikheid van Menswees…”

Daar was 'n tyd wat sekere prosesse en gebeure outomatiese was, met ferme parameters in plek, en jy het nie teen die bestaande neigings geskop nie

Man kom op ‘n sekere stadium in jou lewe op ‘n punt wat jy moet gaan agteroor sit en ‘n paradigmaskuif maak.

Baie van my ou makkers is manne en vroue wat nie somaar rondneukers en dwase as deel van die maatstaf gaan aanvaar nie. Daar was ‘n tyd wat sekere prosesse en gebeure outomatiese was, met ferme parameters in plek, en jy het nie teen die bestaande neigings geskop nie. Dit was eenvoudig nie nodig nie, want niemand sou in die betaalry by die munisipaliteit gaan staan het as hy ‘n boet by die hof wou gaan betaal nie.

Ons het almal iewers een of ander ou joppie gehad, en daar was opleidingsinstansies in plek wat aan die eklektiese behoeftes voldoen het. Jannie was ‘n dataklerk by Provinsiale Adminstrasie, en Sannie het telefone geantwoord by die munisipaliteit. Almal was so soort van tevrede, en het met die bus huis toe gery. Ma en Pa het jou bas warm gemaak as jy disrespekvol was met jou meerderes, en die sisteme was geolie. Waarde- en normesisteme was in plek oor baie bepaalde redes. Die samelewing het gewoontereg in plek gehad, want daar was seker goed wat jy net eenvoudig nie gedoen het nie. Van die vroegste tye af. Die Hollanders het dit dwingendrecht genoem. Jus cogens, as jy nou wíl slim klink.

Wanneer enkele lede van die gemeenskap wél afgewyk het, en in ‘n oomblik van waansin ‘n buurman doodgeslaan het oor ‘n verdwaalde bees, het die gemeenskap gewoonlik as een persoon opgetree. ‘n Soort van antieke regspersoon, as jy wil. Die oortreder is in terme van bestaande regulasies gestraf, en die lewe het aangegaan.
Vandag het héélwat van hierdie inherente, embrioniese attribute in die choas van politieke vooruitgang vervaag. Die wêreld het in linker- en regtervleuels verdeel.

Op die eindpunte van hierdie spektrum, aan beide kante, het individue versamel wat mekaar gereeld in straatbotsings as Fasciste uitkryt. Die meeste van hierdie mense, aan beide kante, voldoen so perfek aan die definisie van Fascisme, dat hulle deursigtig raak en in mekaar wegsmelt as hulle vir uitleg gedruk word.

Die Amerikaanse linkervleuel het dan deesdae ‘n gewapende vleuel wat hulself as Antifa aan ‘n ongelowige wêreld voorstel. Enige verskil van opinie met hulle, word glad nie geduld nie, as Fascisties uitgebeeld, min wetende dat hierdie een van die hoekstene van Fascisme is. Daar word geen teenstand of opposisie in hierdie ideologie verdra of toegelaat nie, en die absolute fundamentalisering van die reg van die individue bots weer met die verhewing van die Leier, ras en Staat van die regtervleuel. Wie is dan nou die werklike Fascis hier…?
Gaan probeer bietjie om jou opinie oor die konfiskering van plaasgrond op ‘n openbare verhoog te verduidelik, en dan kyk ons.

Die plaaslike maatskappy is in ‘n vloeibare staat, kaderontplooing laat die ashope by Medupi net hoër word, en die daaglikse prosesse verstrik en oor hul eie voete strompel. Niks is meer dieselfde nie, en beesagtige onbegrip in baie gevalle maak van die daaglikse lewe ‘n nuwe ewolusie.
Selfs tegnologie raak halstarrig en onbetroubaar, en die volk ween en twis op Faceboek en WhatsApp. Geslepe agente en agents provocateur pomp rieme en rieme vals nuus die eter in, hoofsaaklik vir eie gewin, en paniekskepping.

Daar is bepaald nuwe geleenthede, maar jy moet hulle deur die rook van brandende trokke en matrasse by studentekoshuise kan raaksien.
Een of ander stadium gaan al die bevrydes wil eet, en meerkatvleis en kikoeijoe gaan nie op die spyskaart wees nie. Daar gaan ‘n al luiderwordende aandrang tot orde op, en ons moet net ‘n slag ons selfone neersit en dit hoor.

Sêla.

Related Articles

 
Back to top button