BlogsDie WoestynrotOpinion

Devil’s Advocate – ‘n Handjie mielies se verstaan op ‘n droë maag…

Dis warm. Daardie twee oorlamse hansdonkies van die Namib het laat weet dat hulle kaiings ook maar uitkook, maar ten minste kry hulle reën. En ook nie sommerso sulke laaste van die seisoen, afvalreën nie, nee. My Heimat spoel in die spruite van Windhoek weg, riviere bruis kant en wal, en selfs onder in die …

Dis warm. Daardie twee oorlamse hansdonkies van die Namib het laat weet dat hulle kaiings ook maar uitkook, maar ten minste kry hulle reën.

En ook nie sommerso sulke laaste van die seisoen, afvalreën nie, nee. My Heimat spoel in die spruite van Windhoek weg, riviere bruis kant en wal, en selfs onder in die suide, in verpoeierde, lank-vergete ou riviere, bruis die watermassas oor plase heen.
Stomgeslaande kleinkinders van die outoppies wat hierdie wêreld naam gegee het, kyk onbegryplik hoe moddervloede uit die laagtes stroom. Opgeskote tienerjongens en plaasseuns sien hoe hulle speelplekke babersloepe word, en ysige koue val saam met die baie reën. Plek-plek trek die sleepwaens met hope dooie skaap en bok weemoedig voor enkele selfoonvideokameras verby.

“Die Land wat God in Woede gemaak het,” roep hulle daardie plek.
“Ek probeer die brute genade verwoord, maar kan alleen maar kyk hoe ‘n skaapboer sy trekker voor die werfhek afsluit en momenteel by die hoop dooie diere huiwer, een hand wat oor ‘n gesig toevat waar die moegheid lagstrepe dieper gekerf het.
Ek het geen anderhalfjaar terug op die walle van die verpoeierde Bloedrivier gestaan en kyk hoe ‘n dae-oud kalf in die enkeldiep water van die dors vrek. Diere wat deur die dors dungesuig was, het langs die pad se drade in Zoeloeland gestaan. Hier en daar het jy ‘n boer oor sy bakkie se bonnet sien buig, waar hy iets onder sy hoed uit in die ongenaakbare hitte van Noord-Natal gebesig het.

Het Kalunga, Nkulunkulu, Here-God, dit maak nie saak op watter naam jy Hom onthou nie, ons net so effe met die goedheid van ‘n paar druppels reën geslaan, sodat ons kan besef dat Sy bakens nie onsigbaar is nie…?
Gaan ons eers besef dat ons mors met goedheid as die droë waterpype die lied van die sewe maer jare weer aan ons uitbasuin? Gaan ons weer gedwing word tot uitskotbees, op die drumpel van hondekos, wat op vendusies verkoop moet word? Lappe mielies wat onaangeraak op wye lande verdor, en insetkostes wat nagmerriepote in warm nagte kry…?

Ons droogte is nie verby nie. Daar is boere in die Vrystaat wat nog nie ‘n pit kon plant nie. Op veiligheidsgroepe moet landbouers bontstaan om huis en haard te beskerm en te verdedig teen indringers wat nie skroom om ‘n lewe te neem vir ‘n selfoon nie. Dis oorlog, maar ek dink ons boere weet dit. Hulle moes laas in die Jaar van Bloed, in 1838, en die Maer Jare van die Dertigs, hulle rieme soos dun sny soos nou.

Daar is geen landbouer oor die wydte en breedte van hierdie planeet, wat met só min, só baie kan uitboer nie. As ons aan die einde van hierdie verkiesingsjaar nog iets te eet op die rakke wil hê, moet ons hierdie verhaal weer begin verstaan. En ons sakke wat so knopstaan van die wind, op die tafel uitskud.

Die boere is hier om te bly. Hulle kan dit egter nie alleen doen nie. Kan ons hierdie verhaal weer oopmaak, en aan ons kinders voorlees…?
Ek los hierdie kouseltjie hier. Gaan gou my handjie mielies in die agterplaas onder die appelkoosboom, natmaak.


HAVE YOUR SAY:
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

Related Articles

 
Back to top button