BlogsDie WoestynrotOpinion

Die stadsraad op Ritalin en die Tarentaal se maag werk

Die probleem is net dat ou Aap en sy klomp Beetle Bayley comic-troepe nie al daardie pakke wette in die hande kan kry wat hulle moet toepas nie

Die Tarentaal raak stadig.

Die ou bogger het mos ‘n opelyf-operasie ondergaan so paar jaar gelede, en is deur die dokters verbied om enige substans te misbruik, anders gaan die ou vermaledydse swernoot die emmer skop.

Hy het so ‘n paar jaar terug homself aangestel as die dorp se Hoofman-oor-honderd, en nou is die ou tog te vernaam.
Ou Mieliepit is deesdae ernstig. Daar is altevol ‘n kamervol skermonkels wat nou se dae daar by sy sjebien uithang soos wat dié ou konkel en saamsweer. Elke dan en wan, as ek en die bullie daar verbykom, dan sit hy en die Boogskutter kop omlaag oor ‘n paar notas wat die ou nou weer gemaak het.
Aap en sy luitenante is bekommerd. Die hele ou besigheid val uitmekaar uit by hulle, en die Aai-Af-Pie het hom opdrag gegee om ‘n paar skollies een van hulle zoot suitjies aan te trek, en te gaan help met al hierdie vermaarde wetstoepassing in Dundee.

Die probleem is net dat ou Aap en sy klomp Beetle Bayley comic-troepe nie al daardie pakke wette in die hande kan kry wat hulle moet toepas nie.
Aap het noudie dag daai geel Harley van hom voor my hek kom park. Die ou se gekreukelde snoet kan beswaarlik die nuwe Raybanne bo hou, maar hy probeer nogtans.
“Wat soek jy, jou ou mampara? Brom ek van agter die hope tuinvullis uit.
“Waars daai hond van jou?” piep die ou van onder sy fullface uit.

Hy skop die stand uit en sit die Harley af. Hy het laas toe hy die passeerde winter dit probeer het, op sy gat in Coronation Park tussen die Heinekenbottels en gebruikte kondome loop val.
Hy brom iets oor tarentale en overtime pay toe hy onder die boom kom skuiling soek.
Die bullie vat ‘n sublieme eksepsie teen sy teenwoordigheid onder haar boom, en die ou vlug agter my in toe sy hom beginne vloek.

“Ou Mieliepit het ons gebelowe hy sal help met die Raad, maar ek dink die ou bokker is bang vir hulle,” sê hy met een oog op my, en die ander oog op die bullie, wat aan sy skoenpunt hang.
“Hoekom?” vra ek wantrouig.
“Ek dink hy werk nou vir hulle,” sê Aap wantrouig.
“So what?” jy werk ook vir hulle,” sê ek vies.

“Hulle het nou besluit om al hulle meetings daar by sy plek te gaan hou. Hulle sit sulke pakke vol daar by hom elke tea-time,” brom die ou saad.
“En jy?” Julle bokkers sien mens nêrens nie,” skel ek terug. “Julle klomp Sad Sacks is op elke breakfast run, maar as hardwerkende mense julle nodig het om te kom walgooi, dan is jy of gesuip, of Miesies Aap het jou weer gedonner,” raas ek.

Ou Mieliepit gaan hulle almal janlap, en dan McKenziestraat daar by die spoorbrug regmaak met hulle karkasse, vertel ek ou Aap. Hy is die nuwe ringmeester in hierdie sirkus waarin ons bly, en hy gaan al hulle Harleys afvat om sy sjebien se voorstoep reg te maak wat Miesies Aap flenters gery het.

Ou Aap is daar weg nadat hy ‘n Adcodoltjie by my gespunge het.
Die ou se rekke is bra pap deesdae. Sy ou vrou klap hom, en hy werk vir ‘n klomp hansworse.

Dit kan net beter van nou af. My span kamele wat ek van Dubai af georder het, is oppad.
Die voormankameel se naam is Gupta.

Related Articles

 
Back to top button