BlogsDie WoestynrotOpinion

Kernduikbote, SASSA-kaarte en ‘n voertuiglose lewe in Dundee…

So ‘n paar weke terug was dit natuurlik ook sulke tyd. Skoonma se SASSA-kaart moet hernu word. Ek was nou nie 100% seker waar om dit te doen nie, want ek het stories gehoor oor die Poskantoor, en dan weer oor Maatskaplike Welvaart en dies meer, en toe sien ek ‘n SASSA-kantoor daar oorkant die …

So ‘n paar weke terug was dit natuurlik ook sulke tyd. Skoonma se SASSA-kaart moet hernu word.
Ek was nou nie 100% seker waar om dit te doen nie, want ek het stories gehoor oor die Poskantoor, en dan weer oor Maatskaplike Welvaart en dies meer, en toe sien ek ‘n SASSA-kantoor daar oorkant die silo’s, op pad Greytown toe.

Okay, so ons saal toe nou een oggend op en gaan rapporteer pligsgetrou by ‘n dame wat by die deur sit. Sy het heel belangrik gelyk. Ons was blykbaar reg, want toe ek my detail oordra aan haar, en so na Skoonma beduie, sê sy ons moet inkom en iewers gaan sit. Sy beduie vaagweg na ‘n paar rye banke in ‘n donker deel van die kantoor.
Okay, né…? Ons gaan sit, en dis nie 100 jaar nie, toe begin Skoonma murmureer. Ek gaan hoor toe maar by die belangrike dame daar by die deur of ons iewers op die rye banke daarvoor kan sit, en sy beduie instemmend. Dit raak koud in die donker, en Skoonma raak knorrig.
Ons gaan sit.

Amptenare en droewige lede van die bevolking spoel heen en weer by my verby. Ek het geen idee wat die lede van die kantoor moet doen nie, en weet net dat daar so drie of vier van hulle redelik besig en bedrywig voorkom. Daar is een of twee tantes wat met redelike imposante uitrustings aan daar rondstap, en lyk of hulle toesighouers van een of ander aard kan wees.
Nou kyk, hoëhakskoene, stilletto’s, noem dit wat jy wil, wat saam met jeans gedra word wat, in een se geval, lyk of dit aangeverf is. Die dames steur hulle nie aan my nie, en ek begin verveeld word. Uit ondervinding weet ek dat hierdie episode heel waarskynlik die beste deel van die nóg oorblywende daglig kan opslurp, en ek begin met my selfoon te peuter.

Ek neem foto’s van sommige van die meer imposante dames, en dan sommer net van mense wat uit die omgewing kom. Erbarmlike siele wat spore van die lewe oor hulle gesigte uitgetrap ten toon stel, en heel treffend op swart-en-wit foto’s sou lyk.
Hulle lewens is toegedraai in flenters ID-boekies en onbekende ander brokstukke dokumente, wat met groot sorg uit voddelappies uitgevou word. Hulle word genadeloos oorgelaat aan ‘n ongevoelige amptenary wat meer belangstel in kospakkies en toepaslike sosiale media, en hulle trotseer die dag met ‘n stoïsynse gebrek aan sigbare emosie.

Ek het intussen my visie van ‘n swart-en-wit koffietafelfotoboek laat vaar, want een van die belangrike dames neem skerp eksepsie teen my fotonemery. Ek berei my toe maar voor op ‘n strategiese onttrekking, want ek begin visioene kry van ‘n kernduikboot wat iemand ‘n kondoom oor probeer trek het, met twee stilletto’s wat my in netjiese skywe opkerf.
Ek vra toe maar oor Skoonma se kaart, en sy sug, en sê dat die man van die Poskantoor op pad is. Hy moet die kaart kom uitreik.
“Hoe lank nog?” vra ek knorrig, en sy reik na ‘n foon. Ek praat met ‘n belangrike dame by die Poskantoor, aan die ander kant van die foon, wat erg jammer verskoning maak, en sê dat die man op die voete is, want hulle het nie ‘n voertuig wat werk nie.

Dié jong man kom op daardie oomblik asvaal by die deur in, met sy koffertjie, en ons word by ‘n kantoor ingewys. Hy het geloop van die Poskantoor af, om hierdie joppie te kom doen. Ek wil nog wonder hoekom hulle nou nie maar vir my gesê het om na die Poskantoor te gaan nie, toe is die hele sending oor.
Ons is by die deur uit, en my koffietafelboek lê nog steeds daar iewers tussen daai blink aluminiumstoele.

Ek wonder of die duikboot vir ‘n foto sou poseer het…?

Related Articles

 
Back to top button