BlogsDie WoestynrotOpinion

Pienk pantoffels, airforce kolonelle en jumbo eiers

Tien minute later loop jy, grimmig en bevrore, in die laaste gang by Pick en Pay, en gaan staan by die rak met die eiers. Jumbo eiers, jumbo eiers, jumbo eiers......ek sien niks nie

Daar is tog dae wat dinge man bietjie inhaal.
As jy van die huis af werk, soos ek die meeste van my brood vandag verdien, dan wil man nie altyd gestewel en gespoor voor jou rekenaar sit nie.
Dinge raak net bietjie nou as jy skielik moet uitvind dat daar nie meer eiers in die yskas is wanneer jy al met die pan en eierspaan in die hand staan nie…!
Met Dundee se koue, en my kantoor, wat kouer as ‘n heksetepel in Macbeth is, het man soms ‘n lang onderbroek en ‘n sweetpak aan. Voeg daar by jou toerkouse oor jou bevrore voete, en in jou wolpantoffels, met jou Springbokbeanie op. Nou moet jy Pick en Pay toe ry.
Genade! Uit met al daai sagte lappies, in ‘n yskoue jean en daai swaar parka van my.
Daar gaan ons.
Tien minute later loop jy, grimmig en bevrore, in die laaste gang by Pick en Pay, en gaan staan by die rak met die eiers. Jumbo eiers, jumbo eiers, jumbo eiers……ek sien niks nie.
Die vrou wil net jumbo eiers hê, en hier staan ek my bas en afvries bloedvroeg op ‘n Sondagmôre in Pick en Pay, en ek kry nie jumbo eiers nie…..!!!!
Die eerste ou wat huiwerig om die hoek by die hot chocolate en die swembadsout kom, soek seker ook ontbyt. Net, sy het ‘n paar pienk pantoffels aan met sulke groot haasore. Ons sal maar nou nie te veel uitlaat oor die Smartieboks-pijamabroekie en verslete dik, groen trui wat om die res van haar ekstensiewe omtrek gevou is nie.
Ek kry die enigste pak jumbo eiers in Pick en Pay in die hande, en seil af terug na die kassiere toe.
Daar is al klaar ‘n handjievol lede van die plaaslike menslikheid wat in ‘n dwaal tussen die rakke deurvroetel.
Nog ‘n paar pienk pantoffels. Ek wou net begin wonder of ek nog in ons eie heelal is, toe kom stap daar ‘n paar blou pantoffels die winkel binne. Hulle het iewers ‘n tannie gevang wat die omtrek van die Titanic het, en het dit met sulke wit lappe toegedraai.
Die bevolking kry koud. Die woorde Walmart people kom by my op, en ek onthou die afgryslike videos wat ek al oor hierdie nuut-ontdekte spesie gesien het. Pap ore, deurmekaar kuiwe, hangboude en boeppense wat onder die mees ongelooflikste klere flapper in die wind. Pick en Pay-mense kan seer sekerlik ‘n boek skryf oor hierdie “halfagt in die oggend mense,” wat gou die winkel binnestorm om iets vergete te kom koop. Wat is dit met “Sondagoggendshopping” en pienk pantoffels…?
Ek sal maar volgende keer my brekviseiers op ‘n Saterdagoggend koop.
Die pantoffelmense slaap seker nog, of hulle wag vir Sondagoggend. By die huis aangekome, het die temperatuur nog so ‘n kruiwavol grade geval.
Ek gooi daai swaar parka op die bed, grawe weer my sweetpakbroek uit, trek daai yskoue Hi-Tec bootse en jean uit, en pluk my sagtelappies en Springbokpantoffels aan. Toe ek voor die rekenaar gaan sit, weet ek dat Ernest Hemingway sou saamgestem het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button