Die eksistensiële broosheid van Oom Septimus…

Nou, hier op 'n Frosty Friday kom ry een van Oosie se koletrokke vir Septimus en antie Cora plat soos pannekoeke in hulle ou DKW'tjie, daar in Karel Landmanstraat

Daar was eendag ‘n ou kêrel en sy vrou, sy ou ghibbes, wat hier een kant naby ons gewoon het.

Nou, die ou ballie het so af en toe ‘n potjie golf gaan speel by die klub, en dan het sy ou vrou hom aan die oor kom uitsleep daar in die 19de gat.

“Jou gesondheid, Septimus,” het sy gemaan.
Nou, die outop was ‘n seningrige ou flenter wat my baie aan Dave Sutcliffe laat dink het, en iedere oggend het ek hom en die ou tante deur my venster gesien, waar hulle vroemôre ‘n versie gaan stap, vinnig en ferm.

Die ou kêrel was op ‘n dieët van rosyntjies en bran flakes, want sien, “jou gesondheid, Septimus,” is daar oor en oor gemaan. Hy mag ook net suurlemoenwatertjies gedrink het, en daarom het hy so af en toe weggekom vir ‘n bier en ‘n potjie golf.

Nou, hier op ‘n Frosty Friday kom ry een van Oosie se koletrokke vir Septimus en antie Cora plat soos pannekoeke in hulle ou DKW’tjie, daar in Karel Landmanstraat. Toe ou Septimus in ‘n dwaal weer wakkerskrik, sien hy homself en die antie in sulke wit gewade daar in ‘n groot, luukse ontvangsaal staan. Daar is ‘n klomp mense in ‘n ry, en kaartjies word uitgedeel.

Dis net waiters, bellboys en manne met sulke bont jassies orals, tussen al die pragtige meubels, spieëls en ander prag en praal.
“Oeg,” dink die ou by homself. “Dis darem baie blerry grênd hier.”
Die man voor hom draai om en sê, “dis reg, oom Septimus, dis die hemel, en dis julle hemelse beloning vir ‘n goeie lewe op aarde.”

Ou Septimus skrik sy bas af, en sy bek klap toe. Hulle kom by ‘n slaapkamer, waar die mooiste skilderye teen die mure hang, eksotiese matte orals, pragtige groot donserige dubbelbed, en ‘n trollie met die geurigste hoenderboudjies, steakies, gebraaide aartappels, en die grootse bakke roomys wat hy nog gesien het.

Hy staan nader vir ‘n happie, en antie Cora wys vinger, “Septimus, jou suiker!”
Die man met die keps by hulle sê, “nee tannie, hy het nie meer suiker nie. Hier is nie meer siektes nie. Hy kan enigiets nou eet. Dis deel van sy hemelse beloning vir sy lewe op aarde.” Ou Septimus gryp die grootse hoenderboud wat hy kan kry. Kyk, Kentucky se Moses, sê ek jou nou. Hy hoor ‘n klapgeluid buite die venster, en gaan kyk. Daar sien hy die keurigste golfbaan wat hy al in sy bestaan gesien het. Ver weg sien hy manne op die baan speel.

“Wat is die green fees hier? Kan ons maar gaan speel?” vra die oom.
Die man knik goedkeurend. “Jy kan maar gaan speel. Daar is nie green fees nie, oom Septimus. Dis deel van jou hemelse beloning.

“Genade,” sê hy vir ou antie Cora. “Jy en jou vervlakse rosyntjies en bran flakes. Ek kon al tien jaar terug hier gewees het…!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version