BlogsDie WoestynrotOpinion

‘n Sterk vrou is altyd meer werd as ‘n sterk man…

Sy was definitief my eerste vrou, maar ek was nie haar eerste man nie

Getroude manne.
Of wag, dalk moet man eerder verwys na manne wat getroud is.
Okay, noudat ons die ou sakie vasgestel het, ek is al ‘n hele paar jaar getroud met ‘n klein, kort ou vroutjie, wat party van julle dalk mag ken.
Sy het ‘n ongelooflike kreatiewe nuk aan haar, en maak die ongelooflikste mooi goete as haar dag die slag mooi reg in sy spoor loop.
“Ja, ja,” hoor ek ‘n paar boere hier in hulle baarde brom. Wag nou eers, man.
Ek het hierdie vrou 22 dae kort van my 40ste verjaardag getrou.
Sy was definitief my eerste vrou, maar ek was nie haar eerste man nie.
Sy was ‘n weduwee toe ek haar raakgeGoogle het, en die res was, soos die slim mense sê, geskiedenis.
Nou, as jy soos my jongste broer al getrou het toe jy 21 was, en jou baard nog nie kon regopstaan nie, sal jy nie verstaan nie.
Ek het op daardie stadium een of ander uniform gedra, en het altyd ‘n vuurwapen by my gehad, en baklei was gewoonlik nie ver nie. Soldaat en polisieman, en jy het net eenvoudig nie aan meisies gedink as iets meer as ‘n vlietende teenwoordigheid in jou bed of in jou kroeg nie.
Dis maar soos die dinge gewerk het.
Tot daardie een vrou verbykom.
Ek praat nou nie hier van die polisiekantien se skurwe koggelmerrietjies nie. Nee, boet, vrou. Groot vrou, klaar met die dinge van ‘n kind.
En styl, jy kan dit sommer sien. Ai, en tog ook so ‘n skaamgeitjie in haar. Die vrou het my seine een aand in die rekenaarkamer in Brussel, by die universiteit opgetel, en het begin praat met my. Nou, dis een aand wat man nie gaan suip of aanjaag nie, en ek sit.
Toe die eerste ou skamerige fototjie by my aankom, het ek onmiddellik daardie dik bos, lang donkerbruin hare raakgesien.
Ek het daar en dan die modder van Vlaandere van my skoensole afgesmeer, die grougeit van Brussel afgegee aan ou Wim, daai suipenaar van Gent, en die trein gepak
Keulen toe, Rynland toe, waar die vrypostige geeste van my voorvaders tussen die wingerde van Trier hul odes aan die druif besing het.
In Frankfurt het ek die Lufthansa Boeing geklim, en ‘n maand later het sy op die lughawe op Windhoek voor my gestaan.
Ons is ‘n jaar later in my ma se huis getroud, en ek het gou agtergekom dat die vrou ‘n probleem kan slinger dat sy sous teen die mure afloop.
Sy maak die mooiste goed op ‘n potterywiel en in ‘n kleurpot, en soos hierdie land nou maar is, rol dit die een struikelblok na die ander in haar pad.
Verskaffers (…treurige donners…) wie se reëls, minimums en pryse, maand na maand verskil, asemrowende koerierkoste en ‘n spektakulêre gebrek aan kunswinkels in Noord-Natal, maak soms vir ‘n bank moeilikheid as jy ‘n eiesoortige bestelling moet klaarkry.
Bloedvannerwalt.
Dis gewoonlik al wat ek uitkry as ek sien hoe hierdie vrou hierdie ou sakie aan sy onderskeie kele gryp, krapperige ou dingetjies uitsorteer (of afkap…) en dan glimlag sy weer die volgende dag.
Praat van ‘n mag agter die troon. Veral as jou vrou uit ‘n genepoel van rebelle uit stam. Ek red ‘n volk met sulke vrouens.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button