BlogsDie WoestynrotOpinion

Vuilgoedfrustrasies en sommer net Krismisgoeters…

Hulle antwoord die foon op die tweede swaai

Nuwejaarsfrustrasies soos rekenaars en vuilgoedlorries wat op rare tye loop, was maar een van die ou speserytjies waarmee die Nuwe… Verbeterde… jaar 2018 kon begin.
Coronation Park, of Fornication Park, soos dit ook bekend staan aan hierdie kant van Dundee, het ‘n metamorfose ondergaan oor die Kersnaweek.

Jy kom skielik tot die besef dat met al die vakansiedae wat aan die einde van die jaar oor ‘n feesbelustige en dronkdors nasie spoel, die munisipaliteit nagelaat het om jou te laat weet wanneer hulle gaan vullisverwydering doen.
Dis egter nie so ‘n helse pyn in die gluteus maximus nie, want dis darem een diens nog wat hulle doen.
Jy weet net nie altyd wanneer die lorrie gaan kom nie.

Met ekstra mense in die huis stapel die swartsakke gou op, en jy gaan sit maar jou bondeltjie uit op die sypaadjie, en as dit ‘n vakansiedag is, doen jy dit die volgende dag. Dan vind jy so teen middagete per ongeluk uit dat die sakke nog steeds teen jou ingangshek staan, en jy bel die munisipaliteit.

“Nee, die lorrie is al verby meneer…!” (Kragwoord van formaat, deur redakteur verwyder)
Jy het vroegoggend met maaierbesmette sakke teen die inrit opgesukkel, tesame met ‘n kruiwavrag vol ander vieserigheide wat moes weggesmyt word. Jy sien die herwinningsspan in die straat opkom, iedereen met sy sak plastiek, en jy stoei die sakke weer die hek in. Jy het maaiers wat onder jou kraag kriewel, en jou moer sit kort onderkant die wewerneste opgeblaas.

Dan vra jou ou huisdier, jou ou ghibbes, jou ou liefding, v-r-e-e-s-l-i-k liefies of jy die vuilgoedafdeling van die munisipaliteit al gebel het, want hulle sal die oorskot vullis kom haal. Dis wat een van die bestuurders daar vir haar eendag kort voor die sonvloed beduie het.
(Nog ‘n kragwoord van formaat, deur die redakteur verwyder).
Jy bel die nommer, en die munisipaliteit se sentrale antwoord nie hulle foon nie. Net voor jy die bulterrier met jou reeds gehawende huisfoon gooi, vat sy ewe liefies die foon by jou en sê, “Ek sal bel.”

Hulle antwoord die foon op die tweede swaai. Sy bedank iemand innig aan die ander kant, en toe jy by die voordeur uitkyk, staan die lorrie voor jou deur. (Nog ‘n kragwoord….never mind…)
Die vuilgoed word driftig en deftig gelaai, en jy kom in om ‘n koffietjie te gaan maak. As jy by jou rekenaar gaan sit om jou rubriek klaar te skryf, sien jy dat jou Internet loop lê het.
(Nog ‘n …ja, ja, okay.)

Die studio se printer print skielik ook nie meer nie. Al die USB-poorte het in simpatie loop lê, en daar is die tablet se data toe ook skielik op. Ten minste was dit Kersnaweek stil in die park, brom ek by myself.
Daai Ethiopiese koffietjie wat my Kersfeeskind my vir Kersfees gegee het, is ‘n lewesalwende eliksertjie, maar my twee Restless Leg-bedonnerde pote dans ‘n Namakwariel uit die boeke van die meesters uit.

My pa het eendag ‘n oomblik van rare meelewendheid gesê dat jy op die aand wat jy verwek word, een uit sewehonderdmiljoen kanse het om ‘n lewe te word. Moenie daai soort van luck mors om aan die klein beentjies van die lewe te bly knaag nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button