Waar potholes asemhaal en spietkops bedreigde spesies word

Wanneer ‘n slaggat begin asemhaal, raak dit tyd om wyer draaie te gaan loop. Menige plaaslike inwoner, myself ingesluit, het altyd steen en been gekla oor die toestand van ons paaie, die grootte van ons slaggate, vuilgoed wat in die dorp rondlê, en sommer net goed wat nie werk nie. Ek het rede gehad om …

Wanneer ‘n slaggat begin asemhaal, raak dit tyd om wyer draaie te gaan loop.
Menige plaaslike inwoner, myself ingesluit, het altyd steen en been gekla oor die toestand van ons paaie, die grootte van ons slaggate, vuilgoed wat in die dorp rondlê, en sommer net goed wat nie werk nie.
Ek het rede gehad om twee weke in om Kroonstad te spandeer kort gelede. Nou, as jy nie weet wat of waar Kroonstad is nie, ry hier af Harrismith toe, klim op die N5, en donder die Vrystaat binne deur Bethlehem. Hier anderkant Steynsrus begin man hond se gedagte kry, en deuskant hierdie ou plakkersgehuggie met sy sandsteenkerkie begin die honde te blaf. Daar is ‘n rede hoekom die Vrystaat se nommerplate op FS eindig. Dit staan vir F—– Slote….!!
Jy bekruip Kroonstad uit die suide uit, soos daai ou Engelse kolonelle van ouds moes gedoen het, want jy ry letterlik ‘n St. Vito-dans oor die pad om uit die gate te bly. Of daai slote. Soos die nommerplaat sê. Ek dink die rede hoekom Vrystaat-nommerplate almal datums op het, is dat argeoloë kan weet met watter tydvak hulle te doen het as hulle jare later ‘n Landcruiser in so ‘n gat moet ontdek.
Daar is baie Landcruiserbakkies. En Hiluxxe. Dis moet om uit die gate uit te kan kom, want in daai wêreld kan niemand meer met enigiets boer nie. As dit reën in die Vrystaat storm al die boere uit die Spur uit om te gaan sakdoek uitstof.
Dan kom kruip jy Kroonstad oor die Wawielbrug binne, en dan begin jy vinnig te leer. Daar staan groot stukke geel plastiek in die strate rond, met mannetjies wat sulke rooi vlae rondwaai. Jy sien nie eintlik ‘n masjien wat werk nie – of iemand wat ‘n graaf swaai nie. My kar begin skielik kwaai te stamp, en ek dag vir ‘n blitsige wyle ek is terug in Antwerpen op sy keistene, maar dan sien ek nee, dis sommer net gewone, Vrystaatse modderkoekie-teerstrate. Die hele pad is vol sulke hobbeltjies. Dis nou waar iemand slaggate probeer regmaak het.
Vuilgoed en kospapiere waai die padwerke se gate vol, en by robotte wat nog werk, kry jy slagslote wat al twee ore en ‘n stert gegroei het. Ek sweer as man daarin moer, gaan jy geen selfoonontvangs onder in daai gat kry nie. In van die ouer woonbuurte is daar sulke lang stukke grondpaaie, waar die teerpad al in sy geheel weggery is. Daar bly voorspoedverlate uitskoppelinge waar die ellende op krukke loop om uit die hondestront te bly. En hulle slaat vuis oor anderman se weggooisels in die straat.
Jy, Dundoniër, het niks om oor te kla nie. Ons strate lyk soos boulevards teen daardie skraapsels. Dit is net ongelooflik om te sien hoe die paaie verander as jy oor Bothaspas gery kom. Maar, kom ons gee die Vrystaters hulle kloppie op die skouer. Die pad tussen Heilbron en Frankfort is nou ‘n juweeltjie. Ek gaan ry hom sommer weer môre. Net om seker te maak.
Sela.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version