Blameer dit op Verwoerd en vang die kat, anyway…

Ek het al baie gewonder of diere ook verskillende spesies onderskei. Mense word deur wetgewing verplig om van mekaar te hou – wel, tot op ‘n punt toe – maar diere…?Ek sit en kyk vanoggend hoe een van hierdie mikstert-byevreters by my korf kom sit, en ek dag so suutjies by my self, nie hier …

Ek het al baie gewonder of diere ook verskillende spesies onderskei. Mense word deur wetgewing verplig om van mekaar te hou – wel, tot op ‘n punt toe – maar diere…?
Ek sit en kyk vanoggend hoe een van hierdie mikstert-byevreters by my korf kom sit, en ek dag so suutjies by my self, nie hier nie, boetie… hier gaan jy gou jou gat sien. En hy het. Daar sit twee knorrige hadedas in die hoek van die agterplaas, en dit lyk nie asof hulle hul aan die res van die voëls steur nie, tot een van daardie vieslike rooi-oogduiwe net ‘n rapsie te naby kom. Die een hadeda kap soos blits met die snawel, en maak wragtig die duif vrek. Ek sit stomverbaas en kyk, en wonder nogal wat het hierdie rassistiese aanval aangevoer. Die twee mynahs, wat my so met ‘n houtoog aankyk (ek het al verskeie van hulle familielede gesluipskiet) staan nader aan die kombuisdeur, waar daar twee van my kwikkies op die stukkie gras agter goggatjies aan peuter. Die een mynah neem skielik eksepsie, en storm die een kwikkie. Vir watter rede die verdomde mynah toe die kwikkie vermoor, sou ook net hy weet, maar ek vervies my op die daad. Hy staan nog so en spog by sy tjommie onder die appelkoosboom toe ek hom van agter blits dat sy stukke trek. Vat so, katvis. Jy sal nie my ‘good luck’ voëltjies kom doodmaak hier en dan dink jy gaan net somaar wegloop nie, brom ek in my baard. Dan sien ek die gryskat. Ag jinne, tog. Hierdie kat was ou oorlé Stoffel, die worshond, se persoonlike irritasie, en hy het elke oggend as ek die agterste hek oopmaak, met groot gedruis en belofte uitgestorm om die kat op sy moer te gaan speel. 
Neef Kat was egter elke keer te vinnig vir Stoffel, en het bitterlik nonchalant teen die jakaranda se stam uitgesuiker, waar hy dan op die eerste dwarstak vir ou Stoffie sit en koggel het. Onske aarde, dan raak daardie worshond so boosaardig vies dat hy later sy eie gat met klippe kan gooi, maar wat kan hy nou maak…?! Ek staan en kyk ou Stoffie se katrassisme elke oggend so, en wonder maar so in my stilligheid of die mens se beste vriend nie maar mensgewoontes aanleer nie…?
Hoe dit ookal sy, ou Stoffie het nooit van daai vermaledydse kat gehou nie, en het bitterlik eksepsie geneem oor die feit dat die kat op sy premises geslaap het, en hy hom net nooit kon vang nie. Die bullterrier het nooit van skoolkinders gehou nie, en ek kon haar daar nie kwalik neem nie, want die helsimme het haar tot die dood toe getreiter as hulle verbygeloop het. 
Reënspinnekoppe was ook ‘n spesiale verhaal. Die ou goetertjies sit doodrustig teen die handdoekreëling die wëreld en uitkyk, tot ek een van die lede van my huishouding ‘n groot word hoor sê, en dan word daar oorgegaan tot Operasie Verwoes die Spinnekop. 
Wonder wat ou Blade hiervan sou sê…?

Exit mobile version