SchoolsVryheid Herald

Pionier-skuts presteer

Nash Olivier was die groot kampioen met ‘n eerste plek (goue medalje) in die Top 8-uitskiet

Pionier se agt KZN-skuts het vanaf 23-27 September aan die SA-skyfskietkompetisie by die indrukwekkende Castle de Wildt in Nylstroom deelgeneem.

Wat ‘n wonderlike ervaring was dit nie vir elkeen van die skuts om lid van die KZN-span te wees nie. Hierdie span het mekaar bygestaan en die ander provinsies gewys waar Dawid die wortels gegrawe het.

Die skuts het by Weesgerus tuisgegaan en is behoorlik met heerlike ontbyte en gasvryheid bederf. Die KZN-bestuur het vir verdere vermaak gesorg: wildritte, supertube, braaivleis en kuier om die vuur, geborgde haargeskenke en ‘n spannende toutrekkompetisie.

Die wonderlikste was die openingseremonie in Castle de Wildt se indrukwekkende hoofsaal. Die hele land se skuts het deftig op hoendervleismooi musiek in hul provinsiale klere ingestap. Dit het elke skut laat besef dat die hele jaar se harde werk absoluut die moeite werd was.

By die goedgeorganiseerde prysuitdeling op 26 September het Pionier se skuts uitmuntend presteer.

Nash Olivier was die groot kampioen met ‘n eerste plek (goue medalje) in die Top 8-uitskiet, ’n goue medalje vir die beste o.14-3P-Veerklasskut, goue medalje vir die beste o.14-Veerklasskut, goue medalje vir die beste Veerklasskut (algeheel), goue medalje as lid van die Veerklas-wenspan en ook ‘n lid van die o.16-Veerklaswenprovinsie. Nash is die eerste o.14-skut wat nog ooit as die beste Veerklasskut in Suid-Afrika aangewys is. Hy het drie rekords verbeter: rekordtotaal van 1395 punte teenoor die vorige 1332, in die 3P skiet hy 534 punte teenoor die vorige rekord van 509 en in die 10m-kompetisie kry hy 332 punte teenoor die vorige 331 punte. Nash verwerf sy SA-kleure (goud). Nash, Pionier is baie trots op jou. Ons hou jou skyfskiettoekoms met hoë verwagtinge dop.

Wileze Scheepers word as onderkapteine van die KZN-span gekies. Wileze verwerf ‘n silwer medalje in die o.21-Sporterklas se 3P-kompetisie en ‘n sewende plek in die Sporter-uitskietkompetisie. Daarby verwerf Wileze SA-kleure (silwer). Pionier is baie trots op jou, Wileze.

Frans Saaijman verwerf ‘n goue medalje as lid van die Veerklas-wenprovinsie, ‘n brons medalje as lid van die o.21-Veerklaswenspan, ‘n brons medalje in die o.16-Veerklas se 3P-kompetisie (individueel) en ‘n goue medalje in spanverband o.16-Veerklas algeheel.

Lizaan Jansen verwerf ‘n brons medalje in die 10m staan (o.16-Veerklas), goue medalje in die o.16-Veerklaswenspan, goue medalje in die Veerklaswenspan (algeheel) en eindig algeheel vierde in die o.16-Veerklas.

Pionier is definitief een van die top skyfskietskole in Suid-Afrika.

ALSO READ: Pioniers sien uit na ‘n welverdiende vakansie

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

You can read the full story on our App. Download it here.

Carlien Grobler

Journalist (Freelance) for Vryheid Herald

Related Articles

Back to top button