Sport en kultuur is ‘n fees by Pionier

Ons is veral trots op die personeelgroepie se musiekkennis

1. NOOT-VIR-NOOT

Pionier se ATKV-jeugtak, Hupstoot, het 13 Julie 2024 ‘n geslaagde projek, NOOT-VIR-NOOT, aangebied. Die leerders het die saal stampvol gesit en ‘n aand van sing en lag geniet.

Veels geluk aan die volgende afdelingwenners, wat elkeen ‘n kontantbedrag van die jeugtak en ‘n ATKV-bederfpakkie gekry het:

Juniors: Wynand Viljoen en Blake Lopes;

Seniors: Jasmin van Rooyen en Janika Ferreira.

Personeel: mejj. Vorster en Coetzee.

Ons is veral trots op die personeelgroepie se musiekkennis en die feit dat hulle twee die algehele wenners van ‘n vakansie by ATKV-Drakensville is. Veels geluk, mejj. Vorster en Coetzee.

2. RUGBY

Jacques Richter, Cobus van der Westhuizen, Anro Swanepoel en Franco Jonker het vanaf 16-21 Junie in Reitz vir die Noord-Natal-rugbyspan gespeel. Hulle het 15-man-rugbywedstryde en ook 7’s-rugbywedstryde gespeel. Hulle het in die 15-man-rugbywedstryde twee van die drie wedstryde gewen en algeheel vierde geëindig. Jacques Richter en Cobus van der Westhuizen is albei in een van hul wedstryde as man-van-die-wedstryd aangewys. In die 7’s-rugbywedstryde was Jacques Richter die spankaptein en hulle span het algeheel derde geëindig. Hulle het dit baie geniet, maar moet net bylas dat dit daardie week snerpendkoud was.

Pionier is ook trots op Josh Jordaan, Anthony Byrnes, Jaco Smit, Willie Landman en Jean Theron wat vir die KZN-o.16-rugbyspan in Frankfort gaan speel het. Hulle het aldrie hulle wedstryde gewen en algeheel eerste geëindig. Anthony is as die kaptein van die KZN-o.16-span gekies. Josh Jordaan het uitstekend gespeel en is twee keer as man-van-die-wedstryd aangewys. Hy is ook as beste losskakel en agterlynspeler gekies. Josh het ook sy plek in die VKB-o.16-toerspan, wat vanaf 24 September tot 1 Oktober in Namibië gaan toer, met sy uitmuntende spel verdien.

Gerber Diedericks het die afgelope Junie-vakansie Pionier by die VKB-rugbyweek in Reitz verteenwoordig. Hy het in die o.18-Wildebees-plattelandspan gespeel en hul span was onoorwonne en is as toernooiwenners aangewys. Gerber is ook vir twee toerspanne, waarvan die eerste een na Frankryk en Italië en die tweede een na Dubai toer, gekies.

3.NETBAL

Pionier is baie trots op Minke Mentz wat in die 0.17A-netbalspan ingesluit is. Hulle het vanaf 24-26 Junie aan die Telkom-netbaltoernooi in Pretoria by Hoërskool Waterkloof deelgeneem. Hierdie span het vyf wedstryde gespeel waarvan hulle vier wedstryde verloor het. Hierdie toernooi was beslis goeie ervaring vir Minke.

Hoërskool Pionier se o.16-netbalspan het op 12-13 Julie aan die Coke-netbaltoernooi te Potchefstroom deelgeneem. Die dogters het baie goeie blootstelling gekry en die ervaring was van groot waarde vir hul netbaltoekoms.

Die uitslae is as volg:

Pionier wen Hoërskool Kathu 23-3, verloor 3-24 teen Hoërskool Monument, verloor 10-12 teen Hoërskool Volkskool in Potchefstroom, wen 20-10 teen Hoërskool Ben Vorster, verloor 9-18 teen Hoërskool Rustenburg en verloor 11-14 teen Hoërskool Upington.

Nathasha du Toit is as verdediger-van-die-wedstryd teen Hoërskool Kathu, Hoërskool Volkskool en Hoërskool Monument aangewys.

Abby van Tonder is as beste middelbaanspeler in die wedstryd teen Hoërskool Volkskool aangewys.

Clarissa Scheepers is as die beste doel in die wedstryd teen Hoërskool Ben Vorster aangewys.

Op die kalender:

15-26 Julie: Kultuurweek.

ALSO READ: Pionier se redenaars presteer mooi

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

Exit mobile version