SchoolsVryheid Herald

Pionier is trots op puik hokkiespan

Pionier se 0/15-hokkiespan eindig algeheel vyfde in die Mpumalanga-reeks

Pionier se O/15-hokkiespan het by die semifinaal van die Mpumalanga-reeks floreer.
Vrydag, 16 Junie, het die bus vroegoggend na Secunda vertrek. Die spelers het dadelik by die Curro-astrobaan te Secondi begin nes skrop toe hulle daar aangekom het om die dag vir hulself ekstra lekker te maak. Die gazebo is vinnig opgeslaan en die pappas het sommer dadelik vuur aangesteek en smaaklike wors gebraai.
Die dogters het Vrydag sterk kompetisie gehad, maar steeds aanskoulike hokkie gespeel.
Vrydag, 16 Junie, se uitslae:
– Speel gelykop 2-2 teen Hoërskool Lydenburg.
– Verloor 0-3 teen Hoërskool Ligbron.
Saterdag, 17 Junie, het hulle die ryp van die astrobaan af gespeel en selfs al was dit twee grade celsius was hulle harte warmer as ooit! Hulle het soos nooit vantevore veggees getoon.
Ongelukkig verloor hulle 1-5 teen Hoërskool Hoogenhout, maar hulle kon die naweek op ‘n hoë noot afsluit en het Hoërskool Volksrust 3-2 in ‘n naelbytwedstryd geklop!
Die semifinaal sou nie moontlik gewees het sonder die volgende mense nie en Pionier wil julle hartlik bedank:

• MPT Solar Mounting Solutions, in Newcastle, vir die borg van die span se verblyf en twee etes.

• Heléne Ernst vir die borg van die heerlike verversings langs die hokkieveld.

• Charné en Sampie Scheepers vir elke meisie se graveerde sleutelhouer en die yskoue water vir elke wedstryd.

• Mnr RS Muller, wat die meisies en hul afrigter vergesel en vervoer het.

Baie dankie vir die bydrae wat julle gelewer het. Dit word opreg waardeer!

Dankie aan elke ouer vir die ondersteuning en die aanmoediging langs die veld. Julle maak ‘n enorme verskil in elke dogter se spel en lewe.

Pionier se 0/15-hokkiespan eindig algeheel vyfde in die Mpumalanga-reeks (uit die 11 skole wat deelgeneem het). Ons dring nie deur na die Mpumalanga-finaal nie, maar ons is ongelooflik trots om te kan sê dat die dogters gekies is om aan die Noordvaal-reeks deel te neem!
Noordvaal sal van 9-12 Augustus by Hoërskool Ligbron, te Ermelo, plaasvind. Hier word die top ses skole aangewys om teen mekaar mee te ding.
Dogters, trots beskryf nie eers hoe ons oor julle voel nie. Sterkte met die voorbereiding vir Noordvaal.
Aanhouer wen en Pionier oorwin!

ALSO READ: Pionier is borsbarstrots op redenaars

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button