Pionier spog met uitstekende leerders

Ashley is in Graad 7 by Lucas Meyer Primêre Skool en verlede jaar by Pionier as ‘Swemmer van die Jaar’ aangewys

1. ONS SWEMSTER, ASHLEY LOCH

Ashley Loch is ‘n swemmer van formaat. Sy het met haar puik swemtye vir die Senior Nasionale gala op 12-16 April in Port Elizabeth gekwalifiseer. Daar het sy aan die 50m- en 100m-rugslag deelgeneem en gekwalifiseer om later vanjaar aan die Senior Nasionale Shortcourse- en Longcourse-gala deel te neem.
Sy het die voorreg gehad om ons land se swemtalent (Tatjana Schoeman, Pieter Coetzee en Kaylene Corbett) te ontmoet en ‘n foto saam met hulle te neem.
Ashley is al van kleins af baie lief vir die water en haar ma, Michelle Campher, sê haar familiebynaam is ‘Vis’ en sy spot altyd en sê Ashley kon swem nog voor sy kon loop. Sy het in Marble Hall op die ouderdom van agt al vir die TUKS-klub saam met die O.10’s geswem. Sy het steeds rekords wat by die Laerskool Marble Hall, Laerskool Heuwelland, Lucas Meyer Primêre Skool en natuurlik by Hoërskool Pionier staan.
Vandat hulle gesin in Vryheid aangekom het, het sy onder me. Carmen Combrinck begin swem en in 2019 vir O.13-level 3 in 2020 gekwalifiseer. Die jaar daarna het sy vir die Junior Nasionale Swemspan vir die 2021-2022-swemseisoen gekwalifiseer.
Hierdie jaar het sy by mev. Denise Grobler, steeds by die Vryheid-swemklub, begin swem.
Ashley is in Graad 7 by Lucas Meyer Primêre Skool en verlede jaar by Pionier as ‘Swemmer van die Jaar’ aangewys. Sy was Junior en Senior Victrix Ludorum by elke skool vandat sy in Graad 4 was. Sy is as ‘Sportdogter’ by Lucas Meyer Primêre Skool aangewys.
Ashley sê haar doelwitte is om volgende jaar weer vir die Junior Nasionale Span te kwalifiseer en by hierdie galas tot die finale uitdunne te kwalifiseer. Sy droom daarvan om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem, maar sy sal ten minste drie jaar van haar lewe net aan swem moet wy.
Hoërskool Pionier is baie trots op Ashley.

2. NETBALSTERRE

Pionier is baie trots op die volgende netbaldogters met hul puik netbalprestasies: Liandri Grobler is vir die Dolphins-O.14-span en Clarissa Scheepers is vir die Dolphins-O.15-span gekies.

3. ATKV-REDENAARS

Pionier se top redenaars (Aimee Bosman, Susan Gregory, Lianca Landman, Mia Pienaar, Mia Bosman, Lené Janse van Rensburg en Liandri Grobler) het Vrydag, 26 Mei, aan die provinsiale ATKV-redenaarskompetisie in Durban deelgeneem. Elke Pionier-spreker het weereens bewys waarom hul deel van die room van die oes is. Ons wag in opgewondenheid op die uitslae wat eersdaags op die ATKV-webwerf aangekondig word.

4. ATKV-APPLOUS

Pionier se koor, o.l.v. me. Yvette Greeff, het op 22 Mei aan die streeksuitdunrondte te Hoërskool Ferrum, Newcastle, deelgeneem. Die koor het aan die Meriete-afdeling vir onervare kore deelgeneem en het ‘n bronstoekenning ontvang.
Pionier is baie trots op wat ons koor in ‘n baie kort tyd vermag het. Hulle sien daarna uit om reeds vir volgende jaar voor te berei en het baie uit die ervaring geleer.

5. SPORT TEEN HOËRSKOOL ERMELO

Na ‘n baie lang sportseisoen het Pionier teen Hoërskool Ermelo deelgeneem. Hiermee die uitslae:

Hokkie

• O.14-span: verloor 0-7;

• O.15-span: verloor 0-3;

• O.16-span: verloor 0-16;

• Eerstespan: verloor 0-7.

Netbal

• O.14-span: verloor 19-21;

• O.16-span: gelykop 11-11;

• Tweedespan: verloor 20-21;

• Eerstespan: verloor 17-31.

Rugby

• O.14-span: verloor 0-59;

• O.15-span: verloor 17-73;

• Tweedespan: verloor 7-29;

• Eerstespan: verloor 7-45.

1. KAY MOTSEPE-TOERNOOI

Pionier se O.15-netbalspan het aan die Kay Motsepe-toernooi te Hoërskool Kingsway in Amanzimtoti deelgeneem. Daar was skole van elke distrik. Die O.15-netbalspan speel drie wedstryde en dring deur na die semifinaal.

Die tellings is as volg:

• Pionier teen Lady of Fatima: verloor 6-7;

• Pionier teen St Anne’s: wen 12-4;

• Pionier teen Shayamoya: verloor 4-11;

• In die semifinaal verloor Pionier 7-17 teen Lady of Fatima.

Pionier eindig algeheel vierde in hul afdeling.

7. OP DIE KALENDER

• Die Junie-assessering begin 1 Junie. Pionier wens elke leerder baie sterkte toe vir die voorbereiding vir die Junie-assessering.

ALSO READ: Wonderlike geleenthede by Pionier

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version