SchoolsVryheid Herald

Wat ‘n wonderlike week by Pionier

Op Saterdag, 4 Februarie, het die eerstespanrugby se tradisionele “capping”-seremonie in die losie plaasgevind

Eerstespanrugby:

Op Saterdag, 4 Februarie, het die eerstespanrugby se tradisionele “capping”-seremonie in die losie plaasgevind. Pionier se Witbulle het geborgde wedstryddrag saam met ander items vir beter voorbereiding hierdie jaar ontvang. Die rugbyspelers se ouers, die hoof en afrigters het trots toegekyk.

Pionier wil van hierdie geleentheid gebruik maak om al die borge te bedank, want sonder hul bydrae sou hierdie trotse geleentheid nie moontlik wees nie.

Ons is trots op ons rugbymanne en wens hulle net voorspoed vir hierdie jaar se rugbyseisoen toe.

Hokkiekliniek:

‘n Hokkiekliniek is Saterdag, 11 Februarie, vir junior- en senior hokkiespelers by Hoërskool Pionier aangebied.

Ongeveer 45 spelers van onderskeie ouderdomme en spanne het die gulde geleentheid gehad om met nuwe vaardighede, wat hulle Saterdag aangeleer het, hulle seisoen vanjaar met nuwe vertroue aan te pak.

Die verrigtinge het twee sessies gevolg waarin juniors eerste aan die beurt was en daarna die senior spelers. Die fondasie vir jong spelers is weer vasgelê en opvolgvaardighede is toegepas. Die senior spelers is met nuwe presisiespel toegerus en spelstrategie is met interessante oefeninge in groepe geoefen.

Gregg Hesom is ‘n afrigter van formaat. Hy was jare lank afrigter van spanne wat oorsee deelgeneem het en medaljes verwerf het. Sy gemaklike manier om met spelers van verskillende ouderdomme te kan werk, het gesorg vir ‘n genotvolle dag vir afrigters en spelers. Die gietende reën kon glad nie die entoesiasme demp nie. Waardevolle vaardighede is weer op grondvlak ingeskerp en aangevul met ‘n volgende uitbreiding om self en tydens oefendae in te oefen.

Die hokkiespelers het die kundige afrigting waardeer en hul gedrag was gedissiplineerd. Afrigters kon uit die waardevolle afrigting nuwe perspektief en hantering van sy spelstrategie leer om die fundamentele vaardighede ook weer op te knap. Ons is bly oor die paar laerskoolleerlinge wat ook deel was van die dag en ons hoop om ‘n opvolgdatum te bewerkstellig sodat ons ook die laerskole kan betrek.

Die spelers was papnat, maar is opgewonde na ‘n goeie oefensessie terug huis toe. Ons wil glo dat hulle na die ervaring weer met nuwe oë na die fasiliteite en geleenthede, wat Hoërskool Pionier aanbied, sal kyk. ‘n Astrobaan bied aan hokkie soveel meer dimensie en ons spelers leer hierdie vaardighede vir moontlike toekomstige loopbane in die professionele hokkiewêreld aan.

‘n Suksesvolle hokkieseisoen word vanjaar vir elke span vanjaar toegewens.

Volksrust-atletiekbyeenkoms:

Vrydag, 10 Februarie, het Pionier se atletiekspan opgewonde op die busse geklim om aan die Volksrust-atletiekbyeenkoms te gaan deelneem. Groot was die atlete en onderwysers se teleurtselling toe die atletiekbyeenkoms later, as gevolg van die hewige reën, afgestel is.

Die enigste baanitems was die 300m- en 400m-hekkies en ‘n paar 800m-items.

Ons atlete het wel onder die omstandighede baie goed gedoen.

Midmar-swem:

Pierre Grobler het op 9 en 10 Februarie te Midmar-dam aan die 8-myl (1 myl is gelyk aan 1,6km, wat beteken dat hy 12,8km geswem het) deelgeneem. Hy is as lid vir ‘n span van 10 deelnemers, wat die liefdadigheidsorganisasie Frankie and Friends ondersteun, gekies. Hierdie organisasie het ten doel om minderbevoorregde kinders die geleentheid te bied om te leer swem.

Pierre se eie liefde vir swem het hom gemotiveer om die nodige fondse van R13 305.00 in te samel, wat dan aan die organisasie geskenk word. Die Vryheid-gemeenskap was baie ondersteunend en sonder almal se bydrae sou dit nie moontlik gewees het nie.

Donderdag, 9 Februarie, is 4 myl geswem en Vrydag, 10 Februarie, is die die volgende 4 myl geswem. Pierre behaal die volgende uitslae onder die 8-mylers: algeheel 12de, in die kategorie 14-30jariges is hy 5de en van al die mans 8ste.

Pierre het dit baie geniet en vir hom het dit gegaan oor die feit daar iewers in Suid-Afrika ‘n minderbevoorregde kind is wat net ‘n kans moet kry om die volgende SA-swemmer te word.

Ander swemmers, wat ook aan die Midmar-myl deelgeneem het, is Zoé Richards en Richelle Rothman.

ALSO READ: Pionier presteer

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

Click to receive news links via WhatsApp. Or for the latest news, visit our webpage or follow us on Facebook and Twitter. Join us there!

Related Articles

Back to top button