Vryheid spog met nasionaal-genomineerde ‘Smaakmaker van die jaar’

Stemlyne is tans oop om vir Jeanine te stem

Vryheid se eie Jeanine Theron is onlangs aangewys as ‘n kategorie-wenner in Netwerk24 se Smaakmaker-kompetisie. Lesers van dié aanlyn-mediahuis moes kandidate vir die verskillende kategorieë nomineer. Jeanine is een van drie finaliste in die ‘Mode met Sarie’-kategorie. Haar naam pryk saam met onder andere musikante soos Early B, Brendan Peyper, Franja du Plessis, ‘n televisie sjef, Herman Lensing asook ander bekende name op TikTok en ander sosiale mediaplatforms.

Die Vryheid Herald gesels met Jeanine oor hierdie uitmuntende prestasie. Jeanine vertel dat sy gesien het dat Sarie-tydskrif ‘n kompetisie aanbied maar het nie regtig daarop ag geslaan nie aangesien ‘n kandidaat genomineer moet word deur iemand anders. Twee weke gelede het Jeanine ‘n onverwagse gelukwensing vanaf ‘n vriendin ontvang omdat sy een van die finaliste in die kompetisie is. Jeanine was totaal oorbluf aangesien sy nie eens bewus was dat iemand haar genomineer het nie. Sy het nooit die intensie gehad om ‘n smaakmaker (influencer) te wees nie, maar nadat sy baie lank met die vraag ‘what is your why’ geworstel het, het sy Aletta Winckler se Voorkomskonsultant-kursus in 2019 gedoen. “Ek is baie passievol oor vrouens, ek wil vrouens beter laat voel oor hulself. Nie net oor hoe hul lyk nie, maar ook wat hul van hulself dink. Ek wil hulle help om hul ‘self-worth’ te kry omdat ekself lank daarmee gesukkel het.” Nadat Jeanine die kursus voltooi het, het Covid-19 toegeslaan en in die grendeltydperk het sy op Instagram (@transformed_by_jeanine) begin om video’s te maak en raad te gee, en dis hoe sy haar kliënte basis opgebou het. Meeste van haar kliënte is aanlyn en van ander dorpe en lande. “’n Groot ding vir my was, ek wou nie vrouens verander van buite af nie, maar van binne sodat hulle kan besef dat hulle hulself mag eerste stel. Indien ‘n vrou haarself eerste plaas, het sy soveel meer om vir ander mense te gee. Ek gebruik altyd die voorbeeld van ‘as jou koppie vol is, dan kan hy oorvloei na ander mense toe en jy kan ander mense help, maar as jou koppie leeg is, het jy niks om te gee nie en kan jy nie regtig iemand help nie’. Ek probeer so vrouens te help, ons plaas onsself altyd laaste en die eggenote en kinders kry voorkeur ten koste van onsself. Indien jy moeite doen met jouself, al is dit net om te gaan stap, doen jy iets vir jouself en jy voel beter oor jouself, dan kan jy ander mense help.”

Jeanine kan ‘n allemintige kontantprys van R25,000 losslaan indien sy as wenner uittree tydens ‘n gala-aand in Kaapstap op 29 Februarie, op Skrikkeldag. Indien sy wel die kontantprys wen, wil Jeanine verder terug ploeg in vrouens deur vir hulle te wys dat mens nooit moet moed opgee op jouself nie. “’n Vrou moet haarself nooit vergelyk met iemand anders nie, want as ek myself moes vergelyk met die top ‘influencers’ in Suid-Afrika, sou ek nooit gedink het dat ek goed genoeg is nie. Jy moet jou fokus verskuif van ander mense, jy moet besef wat jy wil doen en wat is die boodskap wat jy vir ander mense wil oordra. So sal jy die regte mense trek om na jou te luister en te help. Ons het elkeen ‘n storie om te vertel en ons elkeen kan ‘n verskil maak, ons moet nooit voel ons moet soos iemand anders wees nie. Die groot ding is om jouself te wees en jou drome na te jaag en nooit moed op te gee nie. Ek doen hierdie al vanaf 2019 en daar is baie dae wat ek twyfel en wonder of ek dit nog moet doen en dan kry mens ‘n verrassing soos hierdie en mens besef jy is op die regte pad. Nie dat hierdie kompetisie die alfa en omega is nie, maar dit is tog lekker om erkenning te kry vir jou werk. Indien ek wen sal dit regtig wees om almal daarbuite hoop te gee om hulle drome na te jaag en nooit moed op te gee nie of hulself met ander te vergelyk nie.”

Stemlyne is tans oop om vir Jeanine te stem. Hoe stem ek? Besoek die Smaakmaker-afdeling op www.netwerk24.com en kies die kategorie ‘Mode met Sarie’. Voltooi ‘n e-vorm en klik op die finalis se naam. Klik op die ‘submit’-knoppie. Jy kry ‘n gratis proeftydperk van sewe dae om op Netwerk24 aan te teken om sodoende jou stem in te dien. Jeanine staan ook die kans om as algehele wenner uit die kompetisie te tree.

Baie sterkte Jeanine, Vryheid hou jou dop om weereens die dorp se naam hoog te hou!

ALSO READ: Sky is the limit for award-winning local media personality

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version