Local newsVryheid Herald

Dames kuier saam rondom keurig gedekte tafels

Daar is altyd 'n storie agter die tuinhekkie

SAVF-Vryheid het op 20 Mei ‘n damestee gehou waar die dames getrakteer was op tee, koffie en eetgoed uit die boonste rakke.

Die gasvrouens het elk hul tafel keurig gedek, daarom het al die tafels anders gelyk. Om die atmosfeer op die regte vlak te kry, kon die dames luister na klavierspel en sang van Yvette Greef. Zelda open die geleentheid met ‘n gebed – “ons moet blom waar ons geplant is”.

Almal het gehang aan die lippe van die hoofspreker, Elmarie Booysen, motiveringspreker en outeur van Tuinhekkiestories. Die tema was: “Ek drink uit my piering want my koppie loop oor.” Elmarie is oorspronklik van Oos-London. In Februarie 2018 verhuis hulle na Ladysmith (KZN). Soos sy sê: “’n klein dorpie”.

Nou was sy in Ladysmith. Dit was maar bitter moeilik vir haar – geen vriende. Op ‘n dag ry sy rond in haar motor by hierdie klein huisies verby en sy bid: “Here, as hier vandag ‘n vrou by die tuinhekkie staan, gaan ek stop en met haar gesels.” So ry sy elke dag by die huisies verby en sy kyk en hoop…

Op die derde dag ry sy weer verby die huisies, en daar leun daar werklikwaar ‘n vrou oor die hekkie. Sy stop, gaan na die vrou en vra of sy kan inkom vir ‘n koffie. Die vrou agter die tuinhekkie is stomgestaan. Maar Elmarie gee nie op nie, sy bly staan. Die vrou verlaat die tuinhekkie en gaan die huis binne. Uitgestap kom daar twee vrouens. “Jy kan maar inkom, maar ons het nie krag of koffie nie”. En so maak die Here ‘n deur oop en begin ‘n klein Bybelstudie-groepie met die naam “Liefde in aksie”.

In ‘n klein eenvoudige huisie, met drie vrouens wat uiterlik totaal verskil van mekaar, wat in verskillende wêrelde en omstandighede groot geword het, maar wie se harte dieselfde is. Hierdie Bybelstudie-groep groei en groei. Daar is nie geld om ‘n gebou te huur nie. Maar God gebruik gewone mense om te help, en die Bybelstudies kon onder ‘n groot boom gehou word. Hulle hou ook partyjies en het ‘n kleuterskool begin. Die hele koerant kan volgeskryf word van Elmarie se mooi en insiggewende stories! Soos sy sê: “Ek kan nog tot vieruur praat!”

Elmarie se boodskap aan jou: “Elke mens het ‘n storie. Jy kan in die grootste huis in die beste woonbuurt tussen belangrike mense woon, of in ‘n klein huisie in ‘n onbekende buurt met niemand wat ooit raakgesien word nie. Daar is altyd ‘n storie agter die tuinhekkie. My stories gaan oor hulle wat nie raakgesien word nie, min van gehoor word en elke dag moet veg om te oorleef. My stories gaan oor helde en rolmodelle wat nooit die voorblad van ‘n tydskrif sal haal nie, maar wat in hoop lewe en tog ‘n verskil maak in sy huis en gemeenskap. Daar is hartseer stories maar ook stories van lag en lekker kry. My doel is om met die stories mense te laat beleef dat ons nie net moet oordeel nie, maar dieper moet kyk na mense se behoeftes om ook erkenning te kry. Ons almal is uniek geskape, ons verskil van mekaar, maar ons is tog ook so eenders. Ons almal streef na liefde en aanvaarding en sodra ons dit kry, gee dit ons hoop. En hoop, gee nooit op nie.”

“Dankie aan elke vrou wat die oggend saam gekuier het.”

Gooi SAVF-Vryheid saam met Vryheid-gemeenskap en Hoërskool Pionier en jy het dankbaarheid, oorvloed en sukses. Dis alles waarvan ons harte oorloop.

Zelda van die SAVF wil weereens die Vryheid-gemeenskap bedank “dat jul ons soveel ondersteun, dankie aan elkeen se bydrae tot die sukses. Dit was ‘n oggend van lag, trane en baie wyshede, en beslis heerlik eet en kuier. Dankie aan elkeen wat dit saam met ons kom geniet het. God is goed! Hy is altyd goed.

“Mag elkeen wat daar was nooit weer dieselfde oor ‘n tuinhekkie voel nie, mag jou beker oorloop, mag jy dit waarmee hy oorloop, dit in jou gemeenskap saai.”

Die verrigtinge is afgesluit met Yvette se helder stem met die bekende “Pie Jesu”.

ALSO READ: SAVF Dundee wins KZN Facility of the year

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button