Local newsVryheid Herald

Die gemeenskap groet ‘n groot gees en rugby legende…

Indien 'n mens Joe in een woord moet beskryf, was hy ‘n ‘dienaar’, ‘n betrokke 'servant leader'

Johannes Lukas Dyer – beter bekend as ‘Joe’

31/07/1938 – 28/07/2022

Joe Dyer was ‘n groot legende in rugbykringe en hy was veral betrokke by Vryheid Rugbyklub en die Noord-Natal Rugby Unie. Oom Joe se geskiedenis is vasgepen in die boek Noord-Natal Rugby 1973 – 1995. Heinrich Schulze en Eddie Grieb skryf: ‘Die invloed van die Vryheid-afrigter, Joe Dyer, durf nie onderskat word nie. Hy was ‘n knap speler in eie reg en het in 1962 en 1963 vir Natal Plattelandse Distrikte uitgedraf en het nog tot in 1971 vir Vryheid se eerstespan in die nommer-10 trui diens gedoen. Joe Dyer het gedurende die 1980s ook op die Noord-Natal Uitvoerende Komitee gedien. Hy het in fiksheid en dissipline geglo. Sy leuse was: ‘as jy nie kom oefen nie, sal jy nie vir Vryheid speel nie.’ Vryheid-spelers wat op die myne gewerk het sou eerder ‘n skof by die werk afgee as om ‘n rugbyoefening mis te loop. Dit het dikwels gebeur dat dat spelers direk van die myne, en nog met hulle rubberstewels aan hulle voete, by Vryheid se oefeninge opgedaag het. Geen wonder sy spelers het hom, buite hoorafstand, ‘Hitler’, genoem nie. Gedurende die 1980s, is Dyer as afrigter bygestaan deur Jan Combrinck en Hennie Botton.’ Oom Joe het ‘n groot en sagte hart gehad; hy selfs drie doofstom-spelers in die span laat speel en het spesiale handgebare gebruik om aan te dui watter beweging uitgevoer gaan word.

Joe is gebore op 31 Julie 1938 in Vryheid en hy het grootgeword op die plaas Nooitgedacht (op die pad tussen Vryheid en Natal Spa). Hy was die jongste van vyf kinders – ‘n laatlam. Hy was in Lucas Meyer Laerskool en daarna in Hoërskool Vryheid – sy hele skoolloopbaan lank in die koshuis.

Hy het vroeg reeds uitgeblink as rugbyspeler en het in Graad 11 (1956) en 12 (1957) in Hoërskool Vryheid se eersterugbyspan gespeel. Rugby was sy lewe. Joe het ook‘n atletiekrekord by Hoërskool Vryheid wat steeds na 66 jare nie gebreek is nie. Sy verspringrekord vir seuns o/19 van 6,61m staan steeds sedert 1957. Die hoërskool het in 2007 iets spesiaal gereël en hom genooi toe die rekord 50 jaar oud was.

Hy het sy werksloopbaan in die Magudu landdroskantoor begin, het daarna vir die munisipaliteite van Bethal, Piet Retief en Vryheid gewerk voordat hy as verkoopsman en uiteindelik as verkoopsbestuurder by Ritchie Ford op Vryheid opgeëindig het.

In 1975 het hy Trio Sport in Vryhied saam met twee vennote begin. Hy het hulle aandele later uitgekoop en die besigheid vir bykans 20 jaar saam met sy vrou, Senta, bestuur. Nadat hy Trio Sport verkoop het, het hy homself in die bosboubedryf gevestig tot en met sy aftrede.

Hy is in Oktober 1964 met Senta (neé Küsel), ‘n duitse meisie van Paulpietersburg, getroud en hulle het drie kinders gehad: Werner, Heidi en Ingo. Ingo se dood in 1997 en Heidi se dood in 2007 het hom baie swaar getref. Kort na Heidi se dood, in 2009, het hulle Pretoria toe verhuis om nader aan Werner te wees. Daar het hulle gewoon tot en met sy dood op Donderdag, 28 Julie, drie dae voor sy 84ste verjaardag op 31 Julie.

Indien ‘n mens Joe in een woord moet beskryf, was hy ‘n ‘dienaar’, ‘n betrokke ‘servant leader’. Hy was ‘n sterk leier, maar het sy lewe lank ander gedien met sy talente, kennis en vermoëns. Behalwe dat hy die Vryheid-gemeenskap gedien het, het hy sport afgerig by die duitse Michaelis Schule, en later ook gedien as rugbyafrigter by Hoërskool Vryheid, Vryheid Junior Primêre Skool en Lüneburg Laerskool te Paulpietersburg. So kon hy sy passie vir die spel en jarelange ervaring terugploeg in die kinders van die dorp. In Pretoria het hy die duitse Johannesgemeinde gedien deur sy passie vir tuinwerk, en ook om so af en toe weer sy verlange na die plaaslewe uit te leef deur met ‘n trekker die lang gras op die gemeenteperseel te sny.

Behalwe vir sy passie vir rugby, was musiek sy ander passie. Hy was baie musikaal en kon klavier, trekklavier, orrel en kitaar speel. Hy was ook ‘n begaafde skrywer en het verskeie opstelle en selfs gedigte nagelaat.

In die later jare was sy kleinkinders sy grootste passie. Hy het geleef vir hulle en het gereeld sy wyshede met hulle gedeel.

Hy was ‘n Christen wat sy geloof en waardes tasbaar uitgeleef het, ‘n nastrewenswaardige voorbeeld en ‘n mentor vir vele.

Sy lewensmotto was: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen …” Hy sal lank onthou word as een van Vryheid se groot seuns.

Sy kleinseun, en Sanger Emil Paul skryf:

Ai Opa,

Hoe sê mens dankie? Daar is so baie goeie tye wat ek vir altyd sal onthou en koester – van ‘n blou trekker op die plaas in Vryheid, tot ‘for you, I kill 25 bulls.’

Oupa was die definisie van ‘n vegter. Maak nie saak wat die lewe in Oupa se rigting gegooi het , niks het Oupa ooit ondergekry nie. Dieselfde het ook gegeld vir die laaste paar jare. Dit was ‘n lang, harde pad met baie frustrasie, seer en trane. Maar oupa is nou uiteindelik verlos. Oupa is nou vry!

My hart is stukkend, maar tog sal ek vir ewig dankbaar wees dat ek die naam ‘Opa’ kon koppel aan so ‘n ongelooflike man van God.

Rus nou, en stuur groete vir Mama (Heidi) en Onkel Ingo.

Ich wird dich für immer lieben und unglaublich vermissen. Dein Dompies.

(Vir die wat nie weet nie, dit is my Oupa wat ook in die musiekvideo van my gespeel het. Ek sal vir ewig dankbaar wees vir hierdie aandenking.)

Hy laat sy vrou Senta, seun Werner en skoondogter, skoonseun Hugo asook vier kleinkinders agter.

Die gedenkdiens vind eerskomende Saterdag, 6 Augustus, om 11:00 te Evangelisch Lutherische Johannesgemeinde, Pretoria-Oos plaas.

Die diens sal in Duits, Afrikaans en Engels gehou word en sal aanlyn gevolg kan word op die volgende skakel: https://vimeo.com/event/2325665/8b9c59a827

ALSO READ: Vryheid Rugby Club turns over a new leaf

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

Please follow us on our YouTube channel and do not be shy; please subscribe and comment as well. 

Or for the latest news, visit our webpage or follow us on Facebook and Twitter. Join us there!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button