Local newsNewsVryheid Herald

VRYHEID KZN: Doringdraad haak mense se lagspiere met sy komiese manewales

Grappe vertel is nie nuut vir Doringdraad nie en het hy as jong seuntjie al die bynaam van ‘Sirkus’ verwerf

Schalk Lingenfelder, beter bekend as Doringdraad het verlede Sondagmiddag mense by Ella Mera onder die wakende oog van eienaar, Michael Phytides vermaak met sy pittige humorsin. Doringdraad haak mense se verbeelding en aandag met sy grappe en ‘stand-up’ komedie. Grappe vertel is nie nuut vir Doringdraad nie en het hy as jong seuntjie al die bynaam van ‘Sirkus’ verwerf, juis omdat hy jonk en oud met sy lawwighede vermaak het. Doringdraad gebruik alledaagse situasies en vind die humor daarin om mense se lagspiere te prikkel, maar hy maak dit duidelik dat hy wegbly van politiek en godsdiens omdat dit elke mens se persoonlike keuse is.

Vanwaar die naam? Doringdraad het vir die eerste keer opgetree as die ‘White Warrior’ maar het besef dat die naam nie mense se belangstelling aantrek nie, alhoewel die vertoning uitverkoop was. Iemand het sy grappe en persoonlikheid as ‘n doringdraad beskryf (wat mense se aandag laat vashaak), daarna het hy besluit om sy verhoognaam te verander. Die bekende komediante, Tolla van der Merwe en Zak du Plessis was ‘n groot inspirasie vir Doringdraad en het hom gedryf om in hulle voetspore te volg.

In 2009 tree Doringdraad vir die eerste keer by Aardklop op met sy produksie ‘Nou wat nou’ saam met ‘n paar ander Afrikaanse komediante. Dit was die eerste Afrikaanse ‘stand-up’ komedie vir hierdie gewilde kunstefees. Tydens dieselfde jaar vat hy die produksie na Innie-bos toe, waarna die organiseerders hom aangemoedig het om alleen op te tree. Vandaar word Doringdraad genader om tussen bekende Afrikaanse sangers op te tree met sy komedie. Vanaf 2015 het hy die sprong gevat en tree hy op as ‘n eenmanvertoning.

“Om mense te maak huil, is baie maklik, maar om mense te maak lag is baie moeilik. Jy moet funny bones hê,” beskryf Doringdraad hierdie besondere talent van hom. “Ek is verskriklik lief vir sulke klein gigs, want jy is na aan jou mense en jou interacting is perfek. Jy hoor elke ou, jy sien elke ou, hulle lag saam met jou as waar jy ‘n groot gig doen waar daar 1000 mense sit en jy soms hulle aandag verloor. Eendag het iemand my baie sleggesê omdat ek maar 30 volgelinge op Facebook gehad het, toe draai ek om en besluit om grappe op my Facebookblad te post. Ek sit tans met ongeveer 180 000 followers op my blad. As dit nie vir daardie ou se swak kommentaar was nie, het ek steeds gesit met net 30 followers op my blad, maar ek het die negatiewe omgeswaai en dit positief gemaak. Soos Rambo sê, as jy val, maak nie saak hoe hard jy val nie, dit gaan oor hoe sterk jy opstaan…” Doringdraad het onlangs die immergewilde TikTok platform betree waar hy videos met sy grappe pos.

Sy raad aan alle opkomende komediante is: “Glo in jou drome, glo in wat jy doen, jy en jouself ken jou talente. Moet nooit dat iemand anders jou afbreek nie. Vat negatiewe kritiek en swaai dit om want dit maak jou sterker. Negatiewe kritiek help jou om te groei en te verbeter. Een van die ouens wat my baie geleer het, is die legende, oom Mel Muller ook bekend as die godfather van stand-up het my gelei om te kom tot waar ek vandag is.”

ALSO READ: VRYHEID KZN: Brendan sing die dansvloer aan die brand

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button