Local newsNewsVryheid Herald

VRYHEID KZN: Huldeblyk aan Attie en Yvonne van Rensburg

Met liefde van hulle seun, dogter, kleinkinders en agterkleinkinders

Attie 17.07.1923 – 02.09.2021 & Yvonne 01.04.1927 – 24.09.2021

Attie woon, buiten vir 21 jaar toe hy ‘n winkelier in Utrecht distrik was, die res van sy 98 lewensjare in Vryheid en omgewing.

Hy boer naby Glückstadt, waar hy hom uitleef in die teel van vleisbeeste met behulp van kunsmatige inseminasie. Hy geniet die tentoonstelling van sy diere by plaaslike en Gautengse skoue en behaal hierin heelwat sukses.

Hy ontwikkel sig probleme toe hy aftree ouderdom nader en besluit om die res van sy lewe te wy aan visvang, hoofsaaklik aan diepsee hengel by Sodwana. Hy het sy eerste marlyn as jong man uitgetrek, en het die voorreg gehad om oor die veertig marlyne in sy lewe te baklei. Visvang, sê hy, is ‘n poeier en ‘n pil wat werk!

Hy sterf op 2 September by sy huis na ‘n kort siekbed.

Ons sal hom onthou vir sy wysheid en fyn humor.

Yvonne is ‘n nooi Fouché wat op vyftienjarige ouderdom saam met haar ouers Vryheid toe trek.

Op daardie tydstip het Attie pas gematrikuleer en kan hy nie wag om op hul plaas te boer nie. Sy pa stuur hom egter eers dorp toe om ‘n huis te kom uitverf wat aan die nuwe dokter wat op die dorp verwag word, verhuur gaan word. Attie is sielsongelukkig hieroor en terwyl hy die ou verf van die huis se mure moet afkrap, dreig hy: “As hierdie dokter ‘n dogter het, trou ek met haar!” Die dokter het toe twee dogters; een van hulle was Yvonne.

Attie en Yvonne ontmoet mekaar kort na haar aankoms op Vryheid en was sedertdien onafskeidbaar. Hulle tree op 16 April 1949 in die huwelik en was vanjaar geseën om hulle 72ste huweliksherdenking te vier.

Na matriek het Yvonne by die plaaslike telefoonsentrale gewerk en daarna saam met Attie in hul winkel in Utrecht distrik. Toe hulle terugtrek Vryheid toe sodat Attie kan kom boer, wy sy die res van haar lewe daaraan om Attie te ondersteun.

Sy sterf op 94-jarige ouderdom tuis.

Ons sal haar onthou vir haar innerlike krag en sagtheid.

Ons dank God vir hulle vol en geseënde lewens.

Met liefde van hulle seun, dogter, kleinkinders en agterkleinkinders.

ALSO READ: DUNDEE KZN: ‘n Huldeblyk aan ‘Oom’ Callie Carelse

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button