Dundee CourierLocal newsNews

DUNDEE KZN: ‘n Huldeblyk aan ‘Oom’ Callie Carelse

Hy het altyd tyd vir 'n grappie gehad asook tyd vir sy groot liefde - Gholf

Casper Johannes Carelse, beter bekend as Callie is op 18 Maart 1938 gebore.

In 1990 sluit hy by die Glencoe Munisipaliteit as Siviele Ingenieur aan waar hy werksaam was tot die samesmelting tussen die Glencoe en Dundee Munisipaliteite. In 2004 tree hy af, maar word ‘n kontrak om op die raad te dien aangebied.

‘n Kontrak wat oorspronklik vyfjaar moes dien is verleng tot Junie 2015 en dit het veroorsaak dat Callie ‘n alombekende gesig in die gemeenskap geword het. Hy het altyd ‘n tydjie afgeknyp om mense te help met hul klagtes oor die dorp se probleme.

Na 25 jaar op die raad, het Callie besluit om ‘n politieke loopbaan aan te pak om sodoende steeds ‘n diens aan die gemeenskap te kan lewer. In 2016 word hy verkies as raadslid van sy wyk en dien op die Endumeni-raadskabinet tot en met sy afsterwe op 5 September.

Hy was ‘n hardwerkende en lojale individu. Callie was ‘n ongelooflike goeie pa vir sy kinders, oupa vir sy kleinkinders, oupagrootjie vir sy agterkleinkinders en ‘n fantastiese man vir sy vrou, Ina.

Hy het altyd tyd vir ‘n grappie gehad asook tyd vir sy groot liefde – Gholf. Min mense is bewus daarvan, maar hy het nege keer aan die Comrades en agt keer aan die Cape Argus deelgeneem. Sy laaste Argus was in 2013.

Callie het ‘n aktiewe lewe gelei, en was ook ‘n gekwalifiseerde en bekwame vlieënier. Hy was sy familie se steunpilaar, raadgewer en ‘n vriend. Nie net het hy getrou die gemeenskap en sy familie gedien nie, maar hy was ‘n groot Christen en het op die Glencoe Nederduitsch Hervormde Kerk se kerkraad as Ouderling gedien. ‘n Laaste woord vanaf die familie:

“Ons gaan jou baie mis, Hubs…” (soos wat sy geliefdes hom genoem het).

Die familie wil graag die volgende persone bedank: Pieter Bester wie die begrafnisdiens behartig het. Gemeentelede in Ladysmith, Newcastle en Glencoe vir hul onbaatsugtige ondersteuning in hierdie tyd. Newcastle Mediclinic, veral die verpleegpersoneel in Saal E asook Dokter Khan wie na hom omgesien het. Baie dankie ook aan die gemeenskap in geheel vir jul gebede en ondersteuning. Ons waardeer dit opreg.



 
HAVE YOUR SAY: Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at dundee.courier@caxton.co.za.  Add us on WhatsApp 071 277 1394.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button