Local newsNewsVryheid Herald

VRYHEID KZN: Brendan sing die dansvloer aan die brand

Die pandemie het so groot inperking op normaliteit afgedwing dat enigiets wat ‘n positiewe nadraai kan veroorsaak ‘n welkome verandering is

Brendan Peyper is ‘n gewilde Afrikaanse sanger en het verlede Donderdag by die Skiboat Klub in Vryheid opgetree. Die gemeenskap was duidelik uitgehonger vir Afrikaanse musiek aangesien die kaartjies soos soetkoek verkoop het. Tydens een van sy meer gewilde liedjies het hy behoorlik mense se voete laat jeuk, en daar is inderdaad ‘n paar wye draaie op die dansvloer gemaak. Marlize Harmse (organiseerder) sê dat sy ongelukkig baie mense moes wegwys as gevolg van Covid-19 protokol. Marlize is nie onbekend wanneer dit kom by organiseer en reël van sosiale geleenthede nie en sy sê dat sy iets positief vir die gemeenskap wou doen. “Ek doen hierdie om bietjie positiwiteit terug te bring in die dorp. Met Covid en die riots is almal maar negatief en mense het bietjie ‘n wegbreek nodig van jou allerdaagse stress en bekommernisse. Dit is vir my lekker om tussen mense te wees en hulle te kan sien glimlag. Die feit dat ek 16 jaar al betrokke is by die klub, en met die kroeë wat toe was, was dit vir my ‘n ‘must’. Almal het swaargekry die afgelope tyd. En kroeë en kunstenaars het dit harder gevat as enige van ons gewone mense op straat. Ek hoop dit het ‘n verskil gemaak vir die gemeenskap en ook vir die klub self,” verduidelik Marlize haar denke agter die byeenkoms. Die pandemie het so groot inperking op normaliteit afgedwing dat enigiets wat ‘n positiewe nadraai kan veroorsaak ‘n welkome verandering is; en dit was duidelik sigbaar tydens Brendan se optrede.  

Die Vryheid Herald het die geleentheid gehad om met Brendan te gesels en het hom ‘n paar vrae gevra…

Gee vier interessante feite of iets wat mense nie van jou weet nie?

“Ek loop in my slaap, maar doen partykeer produktiewe goed soos koffie maak. Dis nou nie lekker koffie nie, maar ek word halfpad deur die drink daarvan wakker. Ek weet dat ek geloop het, en Trompie loop ook saam met my. Nog ‘n interessante ding is, ek het dit gedurende die show vertel, maar ek het rugby gelos om te sing. Ek het binne-senter vir Hoërskool Jim Fouché se eerste span gespeel. Ek het tot op Vrystaat-vlak vir die onder 19-span gespeel maar toe kry ek my kontrak by Sony. Die volgende ding is dalk nie interessant nie maar vir party mense is dit ‘n skok. Ek het Wiskunde Geletterdheid op skool gehad. Ek het net besef dat ek nie Wiskunde nodig het om te sing nie.“

Wat is die ‘weirdste’ ding wat met jou gebeur het by ‘n optrede?

“Dis nie so weird nie, maar as die krag afgaan terwyl jy iets sing, soos byvoorbeeld in die middel van ‘n liedjie… en die crowd sing die liedjie verder. Dit was awesome. ‘n Fan het my al so agter die ore gegryp en my probeer soen op my mond terwyl ek op die verhoog was. Ek het my kop weggedraai en die soen het my net so op die hoek van my mond gevang.”

Wat is jou gunsteling kos?

“Oxtail potjie met stampmielies. Ek maak self die potjie volgens my pa se resep wat hy by sy pa gekry het.”

Wat sal jy vir vandag se jeug sê om hulle te motiveer?

“As mens kyk na generasies, daar was nog altyd ‘n sekere persentasie wat in ‘n sekere rigting beweeg; mainstream en dan kry jy die mense wat regtig gefokus en doelgerig is, en dan kry jy mense wat in die middel is wat nie weet watter kant toe nie. Ek het nog nooit my oog van my doelwit afgehaal nie, maar dis ‘n natuurlike instink. Ek het myself nooit forseer nie; dit was maar net nog altyd deel van my. As ek myself sien afwyk van dit af, vat dit net ‘n gedagte om my weer terug te bring op daardie spoor. “

Wat is jou inspirasie vir jou liedjies?

“Dit kom uit my onderbewussyn en my ondervindinge. Verskillende tipe songs kom vir my van verskillende plekke af. Ek sal ‘n kuierliedjie skryf omdat ek wil hê dat my pelle lekker moet kuier op ‘n liedjie wat ék geskryf het. Partykeer as ek luister na ‘n song, dan wens ek dat ek hom geskryf het. Ek wil ‘n song skryf wat mense wens dat hulle geskryf het. Ek probeer daardie song die beste maak wat ek kan. “

Jy is as kind geboelie, so wat is jou raad aan ander kinders wat geboelie word?

“Dis ‘n ding wat oordra. ‘n Kind wat nie ‘n sterk persoonlikheid het nie, moet leer om op te staan vir homself, al is dit hoe moeilik. Jy kan nie ander wil seermaak omdat jy seer het nie, maar jy moet opstaan vir jouself en dit waarin jy glo. Mense moet mekaar in ag neem. Ons almal maak foute, maar die produktiefste ding is om daaruit te leer.“

Jy is ‘n Jack Russell liefhebber en het twee… gaan jy op ‘n stadium ‘n handelsnaam vir honde produkte uitbring?

“Ek het reeds; ek het op hierdie stadium ‘n Trompie-jassie vir hoofsaaklik as dit koud is. Een vir die girls en een vir die seuntjies. Dis op my online store en op Facebook.“

Laaste boodskap vanaf Brendan: “Baie dankie Vryheid dat julle my show bygewoon het. Dit was amazing. Ons het nie verwag dat daar so baie mense gaan wees nie as gevolg van die regulasies nie. Maar ons gaan volgende jaar weer ‘n show kom doen en dan gaan dit buite wees.”

Brendan het onlangs ‘n SAMA-toekenning vir die ‘Beste Pop Album van die Jaar’ gewen. Baie geluk, Brendan!

ALSO READ: Vryheid KZN An opportunity for 100 unemployed youth to study further 

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button