Newcastle AdvertiserNewsSchools

NEWCASTLE KZN: In gesprek met top-presteerder, Alea Uys

"Ek was in die koshuis en dit was beslis ʼn hoogtepunt van my hoërskoolloopbaan."

Volkies gesels met Alea Uys, top-presteerder 2020, waar sy 7 onderskeidings en 91% as gemiddeld behaal het.

Dit maak haar ook een van die top-presteerders in die land!

Volkies wil graag weet wat dit is aan Hoërskool Volksrust wat leerders soos Alea laat uitstyg bo die res of is leerders soos sy maar net baie talentvol gebore.

Gee bietjie meer agtergrond oor waar jy jou tans bevind en waarmee jy jouself besig hou:

“Ek is nou in my eerstejaar en baie bevoorreg om medies te studeer aan die Universiteit van die Vrystaat. Alhoewel dit meestal studies is wat my besig hou, is ek baie opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk en sover is dit alreeds ʼn groot belewenis vir my.”

Was daar ooit enige twyfel in jou hart dat Volkies die skool vir jou is:

“Nee, dit was vir my belangrik om naby aan die huis te wees solank as wat ek kan, en ook om ʼn verskil in ons eie gemeenskap te maak. Ek dink almal in die Volksrust gemeenskap het ʼn verantwoordelikheid teenoor die skool om ook hulle bydrae tot die sukses van Volkies te lewer.”

Hoekom het jy Hoërskool Volksrust gekies as skool vir jou hoërskoolloopbaan:

“Volkies beskik oor al die nodige eienskappe en hulpbronne om aan enige leerder ʼn merkwaardige hoërskoolloopbaan te bied, en die feit dat ek elke naweek by die huis kon wees, was ʼn groot bepalende faktor vir my. Omdat meeste van ons sportbyeenkomste in en om die omgewing was, was dit ook moontlik vir my ouers om alles by te woon en my in elke item te ondersteun.”

Dink jy die plattelandse omgewing van Volksrust was tot voordeel of tot nadeel vir jou hoërskoolloopbaan:

“Volgens my was daar beslis meer voordele as nadele. Omdat ons ʼn kleiner hoeveelheid leerders in die skool is, was ons verplig om met meeste mense oor die weg te kom, en ek dink dit het ons almal geleer om goeie menseverhoudinge op alle vlakke op te bou. Dit is beslis iets wat vir almal voordeel inhou vir die toekoms.”

Wat het vir jou uitgestaan by Volkies oor die 5 jaar wat jy daar spandeer het:

“Die akademie en onderrig van Volkies is van baie hoë gehalte en ons het geleer om respek te hê vir ander mense, maar ook vir onsself, sowel as die omgewing. Iets wat uitstaan van ons skool is beslis die sisteem van onderwysers wat soveel ekstra moeite doen om elke leerder se behoeftes raak te sien, te akkommodeer en aan hulle ʼn goeie en veilige omgewing van leer te bied.”

Akademie is sekerlik nie jou enigste talent nie. Het Volkies ander talente wat jy ontvang het ook bevorder of voel jy dat Volkies meer kon gedoen het:

“Omdat ons ʼn skool op die platteland is, is dit soms nodig om die ekstra myl te stap wat geleenthede en sukses aangaan, en ek kan met eerlikheid sê dat Hoërskool Volksrust werklik uit hul pad gegaan het om soveel moontlik geleenthede te skep vir elke leerder, op die gebiede van akademie, sport en kultuur. Elke leerder in Volkies kan met vrymoedigheid en selfvertroue hulle drome najaag.”

Verduidelik wat dit vir jou beteken het om by jou ouers te bly as jy ʼn dagskolier was. Verduidelik hoe jy die koshuis ervaar het, as jy ʼn inwoner daar was:

“Ek was in die koshuis en dit was beslis ʼn hoogtepunt van my hoërskoolloopbaan. Dit is waar soveel lewenslange herinneringe geskep is en ook kosbare vriendskappe gesmee is. Vir my was dit ʼn baie spesiale ervaring wat ek vir niks sal verruil nie.”


Contact us

WhatsApp: 082 874 5550

Email: Reveshni Douglas (Editor) at reveshni@caxton.co.za

Make sure you follow us for regular updates:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button