NewsSchools

VRYHEID: Pionier salueer 2020 se matrieks

Ons dink ook spesiaal op hierdie dag aan Lara Dedekind, wat op 16 Oktober 2017 oorlede is

Tradisioneel word daar jaarliks op gepaste wyse van ons matriekleerders afskeid geneem, wanneer die hele skool se leerders, personeel en matriek-ouers soos een man na Vryheid se historiese Klipkerk vir die Graad 12-kerkdiens optrek. Vanjaar was dit egter ‘n diens van ‘n ander kleur, as gevolg van Covid, natuurlik. Geen blou busse vol leerders wat deur die dorp kerk toe ry nie. Pionier laat hom egter deur geen virus onderkry nie en Plan B skop in. Op Vrydag, 16 Oktober, omstreeks 11.30 kon ons dus wel ons kerkdiens hou, maar hierdie keer neem dit die vorm van ‘n buitelug byeenkoms op ons eie rugbyveld aan. Ds Ferdinand van Niekerk, wat al vir 15 jaar ‘n besondere band met Pionier het, lei weereens, wel vir die laaste keer, die diens en trek daarvoor spesiaal sy blou hemp aan. Hy laat ‘n blywende boodskap, naamlik dat ons Daniël-Pioniers is, agter. Ten spyte van alles wat in hierdie jaar na ons kant toe gegooi is, is elke uitdaging vierkantig in die oë gekyk het en het ons, danksy groot genade, steeds geseëvier. Pionier groet dan terselfdertyd vir Ds Ferdinand en wens hom alle sterkte toe met sy aftrede vroeg in 2021. Ons dink ook spesiaal op hierdie dag aan Lara Dedekind, wat op 16 Oktober 2017 oorlede is. Ons plant, ter nagedagtenis aan Lara, ‘n huilboerboonboom wat langs die Tokkie Smith-saal sy rooi blommeprag sal dra. Ons dink ook aan die Dedekind-familie in hierdie moeilike tyd.

ALSO READ: Pionier is aan die gang

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

Related Articles

Back to top button