NewsSchools

Vryheid KZN: Ons groet Juffrou Botha

Enige kollega kan getuig van haar heerlike, spontane lag, maar ook eerlike kritiek en opregte omgee

Pionier groet vanjaar ‘n groot gees. ‘n Vrou van inbors. ‘n Vrou van statuur. ‘n Vrou stewig geanker. ‘n Kremetartboom.
Juf. Johanna Botha is ‘n boorling uit die hart van Zoeloeland. Sy onthou kosbare kinderjare in die Candover-area, op hulle suikerriet- en beesplaas, op die oewer van die Pongola-rivier, daar waar die Jozini-dam vandag staan. Hier ontwikkel haar sterk leierseienskappe en organisatoriese vermoë reeds wanneer sy as klein dogtertjie haar eie hoender- en lammerboerdery op die been bring.
Sy voltooi haar skoolloopbaan te Hoërskool Empangeni en haar tersiêre opleiding ontvang sy aan die Universiteit van Potchefstroom, met Geografie en Bybelkunde as hoofvakke. Interessant genoeg begin sy haar onderwysloopbaan in 1978 as jong onderwyseres, by die ewe jong Hoërskool Pionier, wat toe maar twee jaar oud was. Nodeloos om te sê, raak sy, tipies van haar persoonlikheid, baie vinnig betrokke by al die aktiwiteite. Die goedgeorganiseerde toere, waaronder ‘n Aardrykskunde-toer na die Kaap, spreek vanself. Nie elke Jan en San Alleman kan sê dat sy haar leerders direk aan ‘n parlementsitting blootgestel het nie. Boonop het hulle in die Parlementsgebou geëet. Hul het ook ‘n besoek aan ons skool se naamgenoot, die Pionier-skool vir Blindes in Worcester, gebring. Daarna volg verskeie sport- , prefek- en graadtoere. Gedurende haar loopbaan as onderwyser rig sy nie net atletiek, swem, hokkie, landloop en tennis af nie; sy was jarelank die organiseerder van uiters suksesvolle swemgalas en atletiekbyeenkomste. Sy is ‘n regverdige skeidsregter, in alle opsigte van die lewe. Sy is ‘n ware pionier in die sin van ‘n baanbreker, ‘n voorloper, wanneer sy projekgroepe op die been bring en navorsingsprojekte lei. Saam met ‘n groep leerders lê hul die Lancaster-voetslaanpad op Vryheid-berg uit.
In 1985 sluit sy, na 7 jaar by Hoërskool Pionier, as departementshoof by Lucas Meyer Primêre Skool aan. In 1994 word sy bevorder en neem die adjunkhoof-stoel baie doelgerig in. Sy het die laerskool heeltemal anders ervaar en met ‘n totale ander metodiek haar rol vervul. Sy skroom nie om letterlik tot die kind se vlak te daal wanneer sy gebukkend voor die kinders sou sit om hulle in die oë te kyk nie.
Ironies genoeg, keer sy in 2015 terug na Pionier. Hier het sy die voorreg om vanjaar, 2020, haar onderwysloopbaan, wat sy by Pionier begin het, te voltooi. Dit dui op ‘n perfekvoltooide loopbaansiklus. Pionier is oneindig dankbaar vir die sterk persoonlikheid en ferm hand wat so deel van juf. Botha se natuur vorm. Sy regeer met ‘n yster-, dog liefdevolle hand. Sy duld nie dislojaliteit, oneerlikheid en misbruik nie. Sy skroom nie om tydens ‘n formele prysuitdeling, haar sitplek tussen die personeel te verruil vir ‘n sitplek tussen die kinders, ter wille van orde en dissipline nie. Wanneer sy iets doen, is dit óf reg óf weg – daar is nie plek vir halfhartige, onbeplande, saamgeflansde projekte nie. Of dit nou ‘n brief aan ‘n ouer, ‘n gholfdag of ‘n prysuitdeling is. Dit sal spreek van trots en perfeksie, net soos haar voorkoms: deftig en professioneel, van troon tot toon. Sy is briljant, skerp en gevat, met ‘n fyn sin vir humor. Enige kollega kan getuig van haar heerlike, spontane lag, maar ook eerlike kritiek en opregte omgee. Sy het vir seker ‘n positiewe bydrae gelewer. Sy is ‘n gebore leerkrag met ‘n passie vir die kind met wie sy te doen kry.
Sy sou niks in haar lewe anders wou gehad het nie. Sy beskou haarself as bevoorreg en dankbaar en sou niks in haar lewe anders wou doen nie. ‘n Vrou wat diep spore trap. Afgemeet en doelgerig. Hoe verplant ‘n mens ‘n gevestigde kremetartboom en dit boonop tussen die jakarandas van Pretoria? Ons weet nie, maar Johanna Botha sal weldra met die resep vorendag kom, want niks wat sy aanpak, is nie ‘n sukses nie.
Juf. Botha, jou plek gaan leeg wees. Wie gaan nou in die personeelkamer, tussen ‘n klomp kwetterende onnies, stilte afdwing deur die eenvoudige geklingel van ‘n teelepel teen die koffiebeker? Ons gaan jou mis. Die invloed van ‘n goeie onderwyser kan nooit uitgevee word nie!

ALSO READ: Vryheid KZN: Pionier Siviel-leerders se liggies skyn helder

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

Related Articles

Back to top button