Local newsNews

‘n Geliefde inwoner verloor die stryd teen MNS

"Motorneuronsiekte is `n wrede siekte wat die mens stukkie vir stukkie aftakel en ons kan net bid dat hulle die ware oorsaak en oplossing vind daarvoor"

‘n Eens aktiewe, fiks en geliefde inwoner van Vryheid het na twee jaar die stryd teen Motorneuronsiekte (MNS) verloor. Dit is met groot hartseer dat die gemeenskap moes verneem van die afsterwe van Gert Saayman. Gert is in Maart 2018 met Motorneuronsiekte (MNS) gediagnoseer.
Na vele doktersafsprake is Gert na ‘n Neurologiese spesialis verwys. Salomé onthou dat hulle een aand in die bed gelê het en dat Gert se spiere in sy been onbeheersd begin ruk het. Die twee het nog ‘n grap gemaak en gesê dat hy moontlik dieselfde siekte as oud-rugbyspeler, Joost van der Westhuizen het.
Min het hulle geweet dat hul eie diagnose in die kol was. ‘n Elektrodiagnotiese toets en ‘n tweede opinie het egter die diagnose van Motorneuronsiekte bevestig. Die Saaymans het allerlei hindernisse oorkom met die hulp en bystand van familie en vriende. In Maart verlede jaar (2019), het die dokters vir Gert op ‘n permanente ventilator gesit nadat sy longe nie meer wou funksioneer nie. Selfs nadat Gert op die ventilator gekoppel is, het hy steeds sy sin vir humor behou en was hy deurentyd positief. Maar Gert se gesondheid het die afgelope tyd stelselmatig agteruit gegaan maar hy kon darem nog sy koffie met ‘n strooitjie drink, alhoewel hy die laaste drie weke sy slukfunksie omtrent heeltemal verloor het en hy net bietjie water met ‘n inspuiting kon inneem.
Gert kon slegs met die hulp van sy oë met Salomé kommunikeer. Die grendeltyd was moeilik vir die gesin maar dit het bygedra dat hul twee dogters, Lizelle en Ankia meer tyd saam met hul pa kon deurbring.
Dit het Gert baie gelukkig gemaak want sy familie was vir hom baie belangrik. “Motorneuronsiekte is `n wrede siekte wat die mens stukkie vir stukkie aftakel en ons kan net bid dat hulle die ware oorsaak en oplossing vind daarvoor.”, sê Salomé met hartseer in haar stem.
Salomé skryf:
“Gert se reis met MNS is nou afgesluit en die laaste hoofstuk is geskryf. Ons kan net elkeen bedank wat deel was van sy lewe.
Busi Nsibande wat hom bedags versorg het sedertdien Oktober 2018 het `n hart en hande van goud, sy het werklik `n passie vir pasiënte en hul versorging. As ek iets sou kon doen sou ek graag haar in die koerant wil bedank en ook klein stukkie plaas dat ons nou weer vir haar werk soek (sien advertensie op bladsy 6). Dit wat ons nie geweet het nie, het ons saam geleer en gelag.”
Gert se plekkie langs sy vrou, Salomé en hul twee dogters, Lizelle en Ankia is nou leeg. Gert is op 9 Augustus oorlede en die gedenkdiens het op 14 Augustus plaasgevind.

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button