Twee word een met samestelling van kerke

Albei predikante is baie optimisties en opgewonde oor hierdie 'Nuwe Gemeente' soos daar tans na hulle verwys word

Jesaja 43 verse 18 tot 21 lees: “Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors les. Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.”
Hierdie Bybelverse was die dryfkrag agter en tydens die samesmelting van Vryheid-Moedergemeente en Vryheid-Wesgemeente.
Wanneer ‘n mens praat van die Klipkerk, dan dwaal jou gedagtes na daardie Hollands-Gotiese styl kerkgebou, met sy Victoriaanse styl klipmuur wat ikonies in die middel van die dorp sy indrukwekkende en dan ook misterieuse teenwoordigheid uitbeeld.
Vir die afgelope 133 jaar is daar in daardie kerkgebou paartjies in die eg verbind, babas gedoop, lidmate begrawe en het daar gemeentelede vanuit verhuis.
Deur al die lief en leed van die dorp, het die gemeente bly staan, maar daar het nou nuwe deure oopgegaan vir albei Nederduitsch Gereformeerde gemeentes met die samesmelting van Vryheid-Moedergemeente en Vryheid-Wesgemeente.
Met die amalgamasie van hierdie twee gemeentes, sal ongeveer 800 gemeentelede steeds elke Sondag die eredienste kan bywoon.
“Dit was ‘n moeilike afgelope drie jaar, waartydens die gesprekke vir die eerste keer begin het. Die pad was lank en swaar, maar dit was ‘n nodige een om te stap,” is die gesamentlike gevoel van beide predikante Ferdinand van Niekerk van die ou Moedergemeente en Hennie van Schalkwyk van die ou Wesgemeente.
Op 2 November verlede jaar is al die regsdokumente geteken om hierdie twee gemeentes se samesmelting te bevestig, en op 27 November het hulle een gemeente geword. Weens finansiële druk, was dit egter nie meer moontlik vir hierdie twee gemeentes om onafhanklik te funksioneer nie, wat aanleiding gegee het tot die samesmelting.
Nadat die formaliteite uit die weg geruim is, is daar ‘n heerlike feesnaweek gereël op 19 Januarie, waartydens die twee predikante afsonderlik in die vorige gemeentes se ‘ou’ kerkgebou maar steeds ‘n gesamentlike preek gelewer het.
Na afloop van die eredienste is daar saamgekuier by Natal-Spa vir ‘n interaktiewe geleentheid vir albei gemeentes se lidmate om mekaar beter te leer ken.
Albei predikante is baie optimisties en opgewonde oor hierdie ‘Nuwe Gemeente’ soos daar tans na hulle verwys word.
“Gemeentelede moet net geduldig en verdraagsaam teenoor mekaar wees tydens hierdie proses,” was die woorde van Ds van Niekerk.
Daar is 40 jaar se ondervinding in die bediening tussen die twee huidige predikante, wat hierdie proses outomaties vergemaklik vir albei gemeentes.
Tans is die Sondag-eredienste in die ou Wesgemeente kerkgebou in Heerenstraat en sal dan wissel in die tweede kwartaal na die ou Moedergemeente se kerkgebou in Kerkstraat. “Ons het die mense gekies, eerder as geboue,” was die woorde waarmee hierdie twee formidabele predikante die gesprek met die Vryheid Herald afsluit.

ALSO READ: Iconic Klipkerk celebrates its milestone 133rd anniversary

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

Exit mobile version