Top leerder deel die geheim van sy sukses

Hy is 'n inspirasie vir elke jongmens wat hul matriekjaar aanpak.

Woensdagoggend dou voor dag het matrikulante na hul selfone gegryp.

Die dag het uiteindelik aangebreek toe die uitslae van die Nasionale Senior Sertifikaat eksamen bekendgestel is. Alhoewel meeste hul uitslae op die webtuiste of via ‘n SMS kon bekom, het baie na daardie stukkie papier gesmag om te sien of dit waar is.

Die gejuig en opgewondenheid onder die jongmense was aansteeklik en onkeerbaar oorweldigend.

Ander matrikulante was weer ietwat teleurgesteld om te sien dat hul miskien daardie onderskeiding met ‘n persentasie of twee gemis het.

Hoërskool Pionier se top presteerder, Ryno Swanepoel het trots weggestap met sewe onderskeidings in al sewe van sy vakke.

Hy het onder andere ‘n persentasie van 90 in Fisiese Wetenskappe behaal.

Ryno het groot drome en het alreeds 10 Januarie vertrek na die Noord-Wes, waar hy aan die Universiteit van Potchefstroom gaan studeer.

Alhoewel Ryno se hart en kop eers in ‘n mediese rigting gestaan het, het aanlegtoetse anders bewys.

Hierdie jongman het besluit om ‘n drie-jaar BCom Geoktrooieerde Rekenmeesterskap-graad te studeer, waarna hy ook sy drie jaar klerkskap moet voltooi.

Maar dit eindig nie daar nie – hy wil sy Honneursgraad doen nadat hy sy voorgraadse studies voltooi het.

Ryno sê dat hy hard gewerk het om hierdie uitslae te verwerf.

Sy raad aan die 2020 matrikulante is as volg: “Hoe meer jy doen, hou meer kan jy doen. Jy moet ‘n gebalanseerde leefwyse handhaaf en hard werk.”

Ryno het aan alle moontlike aktiwiteite by die skool deelgeneem, en hy glo dat hierdie uitkyk op die lewe vir hom ‘n verskil gemaak het: “Sit baie ure in. Gaan uit en maak die beste van die situasie waarin jy jouself bevind en gee altyd jou beste.”

Laastens sluit hy af met ‘wanneer jy leer, bêre jou selfoon’.

Hy is ‘n inspirasie vir elke jongmens wat hul matriekjaar aanpak.

“Pressure can burst pipes, but it can also form diamonds. Vind jou diamant in elke situasie, en maak iets besonders daarvan.”

ALSO READ: Akademie is tops by Pionier

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

Exit mobile version