Ichthus Gr 4 en 5 leerlinge se avontuur in die Drakensberge!

Met ons aankoms was al 3 hierdie besondere pieke pragtig sigbaar teen die helder lug en kon die leerlinge reeds van die eerste dag al met hul spannaam identifiseer.

Op April 5 het 25 baie opgewonde graad 4 en 5 leerlinge op hulle jaarlikse toer vertrek: bestemming Drakensville!
Die kinders was in drie spanne verdeel, “Sentinel”, “Cathedral Peak” en “Champagne Castle”. Met ons aankoms was al 3 hierdie besondere pieke pragtig sigbaar teen die helder lug en kon die leerlinge reeds van die eerste dag al met hul spannaam identifiseer.
Min wetende dat die yskoue op pad is en dat die berge vir die volgende 2 dae heeltemal met wolke bedek sou wees. Die kinders het hulle oopmond aan die TUVA waterpomp-skema by Eskom vergaap en baie interessante en leergierige vrae gevra; om te dink dat elektrisiteit deur water opgewek kan word!
Dapperes en minder dapperes het oë toegeknyp en die heerlike glydraadrit oor Drakensville se dam aangepak! Selfs die personeel het hulle dapperste voetjies voorgesit! Die leerlinge en personeel het deur die week gestap en gestap en gestap. Ja, ons was mos in die berge om te stap! Met elke stapsessie is heerlike versnaperinge, wat elkeen self moes dra, geniet en die uitsig vanaf die verskeie bestemmings is opreg deur elkeen waardeer. Die Drakensberg Seunskoor was ‘n belewenis!
Na dese gee geen seun meer om om in ‘n koor te sing nie! Poskaarte skryf, grappies vertel, aktiewe groepspeletjies en vasvrae oor die berge het elke kind laat meemaak aan aktiwiteite waar hulle ook meer oor hulleself geleer het. Aan die einde van die toer het elke leerling en personeellid in verwondering gestaan toe die wolke voor die indrukwekkende Amfiteater, tydens ons besoek aan die Koninklike Natalse Park, weggeskuif het!
Woudstudies en om goggas in die yskoue bergwater te vang het groot pret opgelewer en natuurlik het een of twee leerlinge per abuis in die water beland…papnat! Tevede dat ons so baie van ons Skepper se wonderlike natuur geleer het, het ‘n heerlike ” Mount-Aux-Sources” pizza by Tower of Pizza gewag! Ichthus leerlinge en personeel bedank die Omgewingsentrum by Drakensville wat ons ontvang het, asook Mev. Lucia Catlett, Mev. Helena Viljoen, Mev. Yvonne Tiley en Mev. Anelia Kriel wat die leerlinge vergesel het.
Dis skool is dankbaar teenoor die Here vir ‘n wonderlike toer en vir Sy veilige bewaring oor elkeen.

Exit mobile version