Volkies se tennisdogters presteer

Op Dinsdag 12 Augustus het die dogtersspan weghol-oorwinnings behaal.

Hoërskool Volksrust se eerste tennisspanne het op 12 en 13 Augustus 2014 aan die Hoëveld Tennisliga in Ermelo deelgeneem. In elke kragmeting het elke speler ‘n enkelspelwedstryd sowel as ‘n dubbelspelwedstryd gespeel.

Op Dinsdag 12 Augustus het die dogtersspan weghol-oorwinnings behaal. Teen Hoërskool Hoogenhout het Elsje Claasen verras met haar enkelspel wedstryd wat sy agt -een gewen het. Teen Hoërskool Secunda maak Marinel Lourens skoonskip in die enkelspel, asook in die dubbelspel saam met Elsje. Daleen Duminy en Corli Taljaard was ook onoorwonne in hul enkel- en dubbelspelle.

Op Woensdag 13 Augustus begin Marinel met ‘n taai wedstryd teen die puik nommer een speler van Hoërskool Ermelo. Na ‘n hele paar naelbyt-oomblikke tree Marinel as wenner uit die stryd met ‘n telling van ses – vier. In die volgende wedstryde wen die meisies baie mooi teen Hoërskool Piet Retief, maar Hoërskool Standerton was net te sterk. In die laaste wedstryd seëvier Hoërskool Volksrust se meisies oor Ligbron Akademie vir Tegnologie. Marinel sluit haar tennisloopbaan by Volkies af met ‘n skitterende oorwinning van nege – een.

Dis ook die einde van Gerdus Taljaard se tennisloopbaan by Volkies en hy sluit dit goed af met ‘n oorwinning teen die nommer een van Hoërskool Secunda, met ‘n telling van ses – vier.

Baie dankie aan me. Annemi Claasen vir die afrigting van die spanne en aan al die ouers wat kom ondersteun het en gesorg het dat die tennisspelers se magies vol was.

Volkies begin reeds op Dinsdag 19 Augustus oefen vir die Hoëveld Tenniskampioenskappe wat in Oktober plaasvind. Alle spelers wat belangstel om daaraan deel te neem, asook alle spelers wat graag volgende jaar in Volkies se spanne wil speel, is welkom om elke Dinsdag by die oefengroep aan te sluit om 2.30nm op Hoërskool Volksrust se bane.

Exit mobile version