BlogsDie WoestynrotNewsOpinion

Van malmense, worshonde en goeie tye – ‘n briefie aan Putin…

Is die wêreld besig om mal te word…?

Is die wêreld besig om mal te word…? Die gebeure rondom die ongelukkige afskiet van die Maleisiese vliegtuig in die Ukraine, die verdwyning van die eerste Maleisiese vliegtuig, en die ontwikkelinge in Irak laat ‘n mens seer sekerlik so dink. 
Onmin, rewolusie (as jy dit so kan noem, maar ek dink die eertydse Franse rewolusionêres van Parys sal in hulle Blanc de Noir stik as hulle dit moet sien), doodslag en moord op ongekende skaal, en dan het ek selfs gehoor dat enkeles onder ons van mening is dat ons in die ‘laaste tye’ is. Blikskottel. 
Die treurmares hier by ons het darem nog nie verby ‘n treurige munisipaliteit, slaggate, steenkooltrokke, peperduur Kentucky Fried Chicken en boerbokke in die strate ontwikkel nie. Daar is nog nie mense wat vir hulle lewens moet vlug omdat hulle ‘n bepaalde geloof aanhang nie. Ons het nog nie vuurpyle wat op ons koppe afreën nie, en die Curriebekerseisoen het begin. Maar, ek hoor die Bulle sukkel so bietjie…?
My ou worshond, Stoffel, het intussen uitgeklok na daai groot Gelukkige Jaggronde daarbo, na die ouman sy stryd met diabetus verloor het. Daai ou hondjie het die hart van sewe leeus gehad, en hy het nie geskroom om die bulterriër aan te vat as sy sy gat gekrap het nie. Ou Stoffel was waarskynlik ‘n worshond-rifrug-tuinbankie kruising, en die tuinbankie was die een waarop sy ma gestaan het.
Geen verbyloper in die straat, rot, kat, mynah of rooi-oogduif, het aan sy sensors ontsnap nie. Hy was werfetter, ou Stoffel, en het sy been teen die kosyne in die huis gelig tot die dag van sy dood, hy het skoonma se skaaphond pakgegee as hy so gevoel het, en hy het my moerbaie duidelik laat verstaan dat hy sal maak soos hy wil en daarna voel, en elke keer as ek hom in die bek geruk het, het hy my in geen onduidelike taal laat verstaan dat ek baie gelukkig is dat ek soveel groter is as hy, anders het hy my goed op my moer gespeel.


Geen internasionale nuus het kabels in ou Stoffie se pens geknoop nie. Hy het vrede gehad. Hy was onuitstaanbaar bly as ons by die huis gekom het, en vies as ons vertrek het. Geen hond was so bly soos ou Stoffel om ons by die hek te sien aankom nie. Sy hiper-uitbundige verwelkominge het male sonder tal op my eie senuwees gewerk, maar hy kon nie ‘n skeut omgee nie.


Het ook geen spuit van ‘n jaar oud gehad nie, behalwe hondsdolheid. Hy het net eenvoudig nie siek geword nie, en het die treurmares van die wêreld met ‘n panache van hom afgeskud wat verstommend was.


Daar is net een gedierte wat ou Stoffel se dag bederf het, en dit was daai grougrys kat wat hy net nooit nie kon vang nie. Paar keer baie amper, maar die kat het elke keer ternouernood ontsnap. Rotte was ‘n ander storie. Hy het male sonder tal sy prys kom wys, maar ons het nooit toegelaat dat hy hulle opeet nie. Die kransduiwe wat hy by die hope gevang het, het hy homself dik aan gevreet. Sela, ou Stoffie……ons sal jou onthou, en ek sal ‘n briefie vir Putin skryf.

Related Articles

Back to top button