Editor's choice

Stampe en stote in die Raad…en daar is dit toe weer sulke tyd

En daar is dit toe weer sulke tyd. Die bullie is al twee dae lank skuins bedonnerd oor al Shaugn Lake se bomme en knalle. Bo teen die berg is dit ‘n miernes van bedrywigheid tussen al die Rooibaadjies en Kakies wat skielik weer uit die gleuwe en noutes verskyn het. Die groot generaal Penn …

En daar is dit toe weer sulke tyd.
Die bullie is al twee dae lank skuins bedonnerd oor al Shaugn Lake se bomme en knalle. Bo teen die berg is dit ‘n miernes van bedrywigheid tussen al die Rooibaadjies en Kakies wat skielik weer uit die gleuwe en noutes verskyn het. Die groot generaal Penn Symons loop ook hier rond met sy swart sweetpakbaadjie en sy kortbroek, en sê kort-kort, “Bugger!”.
Hier en daar waag ‘n bebaarde en bejaste Boer dit uit sy bakkie.
Die Duitsers verkoop glühwein dat die biesies bewe, en oral loop manne met sulke geel snorre aan kerriehoender en slurp. Die weer sou outentiek gewees het in 1899. Dis so ‘n nat, souserigheid in die lug, en die berg se kop wil-wil wegraak in die mis.
Spoke staan oral na die gedoentes en kyk. Pam doen plek-plek uit die newels op, met haar nat hare (nou rooi) en haar tartangewaad.
Die asem van doedelsakke kreun in die lug, en ware Engelsmanne steek die pyntrekke op hul gesigte weg met blikbekers Earl Grey en English Battlefield Tea.
Dokter Watson loop rond onder sy pleiskeil, en sy dofgetrapte en verskopte bruin tekkies wat hy aan het, skrei ten hemele.
Ons sal maar tog by die volgende Talana Live! Daai pleiskeil moet omstuur dat ons by sy skoonseun vir hom ‘n paar Hi-Tecce kan koop.
Aap en sy Gideonsbende sit en gluur van hulle voorstoepe af, want hulle mag nie werk nie, en die ouens het ook nie geld vir petrol nie.
Iewers langs die pad loop Dabulamanzi die spoor byster, en kry nie die Slag van Rorke’s Drift nie…
Nêrens nie. Ons vermoed hulle Pierre Cardins het natgereën, en toe maak hulle ‘n regsomkeer. Hulle het iewers saam met drie Roobaadjies in ‘n kultuurdorpie aan die suip gaan raak.
Die veldkornet brand ‘n spoor uit sy baard uit toe hy sy pyp aan die brand wou steek. Moet al die skaapvleisgroente van Normandien wees. Jig. En dan kom voer die kommissariaat die manne hoender hier.
Geen wonder dat hulle perde aan die loop geraak het nie. Wonder darem wat sou ou Penn Symons gemaak het as hulle daardie tyd al Hiluxe gehad het…?
“Bugger…!”
Die Bowman vlug vir sy lewe toe die plaaslike, goed-opgewarmde kampvolgers en skadudames hom pak. Gelukkig het die OBS dampe hom gered, en kon hy spore uitpak voordat daardie gedetermineerde dames naby hom kon kom. Die bullie sou trots gewees het.
Op Mpatiberg val Penn Symons tussen die klippe in, en kom soek ‘n sigaret by die plaaslike media. Shaugn kondig weer die begin van die herdenking van die Slag van Talana op 20 Oktober met een van sy bomme aan, en onder in die Kremlin skrik die burgemeester hom buite weste as sy sangomas skielik aan die hardloop gaan. En dit alles so vroeg op ‘n Sondagmôre…?
En dan is alles verby. ‘n Goeie poging om die juwele waarvoor Noord-Natal internasionaal bekend kan wees, in een pakkie saam te rol en aan die wêreld bekend te stel. Ons moet net ons perde in een stal kry.
En die plaaslike media moet hulle eie brekvis en middagetes begin betaal.
“Bugger…!”

You can read the full story on our App. Download it here.

Terry Worley

Editor: NKZN Courier, Newcastle Advertiser and Vryheid Herald.

Related Articles

Back to top button