BlogsDie WoestynrotOpinion

‘n Padreis met spoke, stories, kunstenaars en kosbare mense

Dans van die Voorbande in 'n poging om jou kar se wiele tot by die volgende dorp heel te hou

Daardie onsigbare punt waarby ‘n gatvol man partykeer kom, daardie oomblik waar jy net wil terugstaan en verdwyn vir ‘n tyd, en dan kyk wat gebeur. Iets soos ‘n lang padreis.
Op plekke waar jy nog net van gelees het.
As jy nou byvoorbeeld hier van die dorstige heuwels van Noord-Natal beginne ry, en jy vat die pad deur Newcastle (onthou, man kan gou aftrek en stop vir ‘n vinnige cappuchino en ‘n oom se brekfis daar by Artisans…) in die rigting van Memel. Dis nou die pad daar verby Oumatjie Gans se plek.
Gougou is jy in die berge, waar die skaduwees lang strepe voor die son uittrek, en manne soos ek nog die ou generaal en sy berede burgers daar teen die rand waar die Ingogo wegraak in Majuba se rigting, kan sien.
Die moment wat jy weer jou oë knip, is jy oor die berg, en dan wag Krisjan de Wet se spoke vir jou oor die bossiesvlakte van Memel, waar die horisonne nou in Stop and Go’s opgebreek staan voor jou kameralens.
Die pad verander in ‘n lasagne van slaggate, sommig groot genoeg om selfoonsein in te verloor, en jy begin die Mal Dans van die Voorbande in ‘n poging om jou kar se wiele tot by die volgende dorp heel te hou.
Die pad tot by Kroonstad is ‘n skildery van townshippies wat kloekmoedig wag hou teen die huidige ekonomie, met sandsteengeboue en kerkies wat sublieme punte op die atlas maak.
Jy moet hierdie trippie so Maart-April doen, dan het jy waarskynlik die beste kans om ‘n groenigheidjie te sien beur teen die granietskaaprugbulte waar die spoke van Mosjesh en Louw Wepener nogsteeds voetjie-voetjie speel met die regering se geskiedenisleerplan.
Ladybrand is ‘n seëning van sandsteenargitektuur en duur koffie, en dan begin die donker met jou sinne parte speel as jy tussen twee horisonne, een kant de Aar en anderkant Britstown, deurrry, en die Groot Meester teken kleurvolle hoofstukke op die ongelowige palet van jou splinternuwe Panasonic FX50.
‘n Nag op Britstown, omgekuier met die pa van ‘n Vrystaatskrumskakel, en die fluisteringe van die Kaapse rebelle begin hoorbaar raak as jy oor die brug by Aliwal ry, en jou ongelowige oë die lokasifisering van die dorp waarneem, waar ek nie gou genoeg kon wegkom nie. By Bethulie word die pad Norvalspont toe sigbaar, en by die Norvalspont Hotel praat ‘n ou Skot stront met my oor Boerekampe. Die name van my voorsate blink soos aanwysers oor die klipmure daar. In Burgersdorp is ‘n uitgebreide vrugteslaai van B&B’s en ek beland in een wat lyk soos een van daardie ou kosskole wat jy net in Britse flieks sien.
Kollosale slaapkamer en spoke op plankvloere.
Vosburg in die Karoo is ‘n stil verrassing, met die son wat kleurstrepe oor my visie trek. Die kamera begin sommer vanself foto’s neem.
In Calvinia betree ons die wêreld waar my pa grootgeraak het, en in Nieuwoudtville boek ‘n pragtige ou tannietjie ons in ‘n B&B in wat ‘n hele woonstel op sy eie is.
Springbok het ‘n helse groot Clicks, en Steinkopf bewe van die rieldanse. Ons slaan die pad Port Nolloth toe, en toe daardie seereuk oor my menswees kom toevou, en die Atlantiese Oseaan met klam vingers aan my gesig kom vat, toe weet ek ons is hier.
Huis. Sela.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button