BlogsDie WoestynrotEditor's noteOpinion

Facebook – Sentraal en die leeus van Kuberkrakia…

Faceboek – Sentraal. ‘n Magtige wêreldteenwoordigheid wat oor die vier hoeke van die aarde heen ‘n veilige hawe bied vir dorpsidiote en ou ooms wat glo dat generaal Patton deur sy eie mense vermoor is, die Twin Towers in New York deur die CIA met ‘n afstandbeheerde hommeltuig laat val is, en dat die Jodeslagting …

Faceboek – Sentraal. ‘n Magtige wêreldteenwoordigheid wat oor die vier hoeke van die aarde heen ‘n veilige hawe bied vir dorpsidiote en ou ooms wat glo dat generaal Patton deur sy eie mense vermoor is, die Twin Towers in New York deur die CIA met ‘n afstandbeheerde hommeltuig laat val is, en dat die Jodeslagting tydens die Tweede Wêreldoorlog ‘n fragment van Churchill se verbeelding was. Of dalk Fritz Duquesne Joubert.
Vandat Mark Zuckerberg en sy luitenante met die konsep van Facebook vorendag gekom het, was kuberkrakers, pedofiele en anders soortgelyke predatore met die ideale voertuig geseën om allerhande teorieë en drogbeelde aanlyn te skep en te perpetueer.
Hier by ons het jy die skaam outjie wat soos ‘n troglodiet in die donker voor sy skootrekenaar vegetateer, en die een na die ander verhaal en drogbeeld skep en laat floreer. Dis ontsnapping op sy beste, wat hier kan Jan Rap en sy maters nou ruimtereisigers, grootwildjagers, grensvegters, treindrywers, geheime agente en skoonheidsprinsesse word.
Maak nou geen fout nie, as jy jou dinge reg speel, kan jy groot geld maak met Facebook.
Dit is steeds oop vir innovering uit die toerisme-bedryf uit, as mense die sprong wil waag, maar jy moet op jou hoede wees teen die ruimtereisigers daarbuite.
Die Bowman het eendag ‘n foto van my en Rooigert Opperman op die Brug van Sugte tussen Ncome en Bloedrivier geneem, en dit het op die Internet beland, meer spesifiek op Facebook, waar ‘n troglodiet van een of ander veterane-groep dit opgetel het, en op sy “groepie” vir sy starende bewonderaars geplaas.

 

Jy kan nie iets op Facebook plaas wat later vir jou ‘n verleentheid mag word nie, en onthou, die Internet vergeet nooit nie.

Gelukkig het my eie maters my gewaarsku, en dis hier waar Facebook ‘n tweesnydende swaard word. Honderde van die aangapende, saamdraffertjies en gathapperhonde het op die orkeswa gespring en ‘n eiertjie oor die foto gelê. Met my verskyning op die toneel, en my reaksie op die kommentaar van die Troglodiet, het sidderasie en bewing ingetree, want ek was nie vriendelik nie, en daarna…..niks. Doodse stilte.
Jy kan nie iets op Facebook plaas wat later vir jou ‘n verleentheid mag word nie, en onthou, die Internet vergeet nooit nie. Daar is altyd iewers ‘n duplikaat van daai dodgy selfie wat jy in ‘n oomblik van waansin geneem het.
Die sogenaamde Faceboekvegters, manne wat só diep agter vyandelike linies in Angola was, en FAPLA-basisse met knipmesse uitgeroei het, of die een na die ander Koevoetpolisieman wat nou uitdop, laat mens jou hande saamslaan in absolute beesagtige onbegrip.
Hoe kan jy jouself uitdos in ‘n verskeidenheid van militêre kentekens wat jy nie verdien het nie, of dalkies nie eens weet waarvoor dit staan nie, en dan dink dat daar geen reaksie gaan kom van iemand wat eksepsie neem nie…?
My gunsteling is die siele wat ‘n gekkepos plaas dat hulle niemand toestemming gee om hulle materiaal op Facebook te gebruik nie. Regtig…?
Of die wat aanspraak maak op vryheid van spraak, en dan krokodiltrane huil as iemand hom aanvat oor die twak wat hy kwytgeraak het…..?
Facebook is ‘n lewende dier, ‘n openbare entiteit.
Gaan soek dit op, en besluit dan weer of jy daai foudie van jou waar jy sonder jou top by die swembad lê, moet plaas.
Of jou kredietkaartbesonderhede. Maar ja, mense leer mos maar moeilik. Dis leeuwêreld daarbuite. Moenie sê ons het jou nie gewaarsku nie. Sela.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button