Local sportNewcastle AdvertiserSport

NEWCASTLE KZN: Provinsiale Jukskei Federasie neem deel aan ‘spesiale kampioenskap’

'Met groot verwagting is daar uitgesien, nie net om te speel nie, maar om ook weer jukskeivriende te sien.'

Die KwaZulu-Natal Jukskei Federasie het onlangs aan die Suid-Afrikaanse Senior Kampioenskap gaan deelneem wat op Jukskeipark te Kroonstad plaasgevind het.

Jukskei administrateur, Daleen Roos het gesê die teleurstelling was baie groot laasjaar toe die kampioenskap vier dae voor die aanvang daarvan gekanselleer moes word, weens die eerste streng inperking as gevolg van Covid-19.

“Vanjaar was daar in spanning gewag om te sien of die virus weereens die kampioenskap gaan kelder, maar gelukkig kon die spelers gaan deelneem. Met groot verwagting is daar uitgesien, nie net om te speel nie, maar om ook weer ons jukskeivriende te sien.”

Roos sê streng Covid-19 regulasies word toegepas met temperatuurmetings elke dag, voltooiing van die nodige vorms, dra van masker, gereelde sanitering, geen toeskouers en geen saamkuiers met ander provinsies se spelers nie.

Al hierdie vereistes het nie die spelers se goeie spel gekeer nie.

“Jukskei SA noem hierdie jaar se kampioenskap ‘n spesiale kampioenskap met baie aanpassings tov die Deelname Reglement,” het Roos gesê.

Sy sê die doel was egter om soveel moontlik spelers die geleentheid te bied om te kan deelneem wat spelers met beide hande aangegryp het.

KZN Jukskei het spelers uitgenooi om te gaan deelneem met geen proewe vooraf nie omdat daar nie veel Jukskei gespeel kon word die afgelope seisoen nie. Saam met enkele leenspelers van ander provinsies wat bitter grag wou gaan saamspeel, het die volgende spanne KZN verteenwoordig:

Mans Bo50 A1 (Caltex): Andries Buitendag, Dons Vorster, Jako Botes en Antoon Claasen (kaptein).

Mans Bo 50 A2 (Slanghoek): Andre Herbst, Eric Sutherland, Danie Steyn en Adam Barnard (k).

Vroue A1 (Uniewinkels): Bets Jv Vuuren, Poppie Marais, Annetjie de Klerk en Annetjie vd Merwe (k).

Vroue A2 (Pikkie Uys): Ria Heyman, Ina Wride, Anna-Marie Kapp, Daleen Roos (k) en Anna-Marie Steyn.

Die Nasionale Dubbelspel het 25 April plaasgevind en al die spanne wat aan die kampioenskap deelgeneem het, het ook aan die dubbelspel deelgeneem.

“114 spanne neem hieraan deel in al die onderskeie afdelings. Uniek aan hierdie dubbelspel is dat ‘n span van vier met twee dubbelspelspanne deelgeneem het en dan word die punte van die twee spanne bymekaar getel om die wenners in elke afdeling te bepaal,” het Roos gesê.

Na afloop van die dubbelspel het die medalje-oorhandiging plaasgevind en die KZN se Vroue A2 span het die bronsmedalje gewen.

Dinsdag het die spanspelwedstryde begin met vyf wedstryde elke dag van 75 minute.

Omdat daar nie genoeg spanne in elke afdeling ingeskryf het nie, was daar besluit om die volgende afdelings teen mekaar te laat speel, wat ook ‘n eerste keer was:
– Senior Mans A1 (Kopersbond) en Bo 50 Mans A1 (Caltex)
– Mans Bo 50 A2 (Slanghoek) en Vroue A1 (Uniewinkels)
– Seniors Mans A2 (Sanlam) en Vroue A2 (Pikkie Uys) asook die Onder-30 spanne

“In die begin was almal maar onseker en skepties tot hierdie indelings, maar helaas, dit was ongelooflik lekker om so teen mekaar te speel en nie soos in die verlede net teen vroue of mansspanne onderskeidelik nie.”

Roos erken die uitdagings was wel daar, maar die sterk kompetisie het goeie jukskeispel opgelewer!

Vrydagaand het die finale medalje oorhandiging plaasgevind en sy wens KZN geluk met die volgende prestasies:
– Mans Bo 50 A1 wen die Plaatafdeling
– Vroue A1 wen die Bronsmedalje
– Vroue A2 wen die Bronsmedlaje

Dit dien gemeld te word dat sou die reël toegepas was soos in JSA se Deelname Reglement geskryf is dat ‘n A2-span nie kwalifiseer vir ‘n medalje as daar geen deelname van die provinsie in die A1-afdeling is nie, sou KZN se Vroue A2 die goue  medalje gewen het!

“Baie geluk aan hierdie spanne van KZN! Julle het ons trots gemaak ongeag die min Jukskei speel die afgelope seisoen en oefening. Tydens hierdie kampioenskap het Jukskei SA ook aan elke provinsie ‘n nuwe vlag geskenk en daarvoor sê ons baie dankie,” het Roos afgesluit.


Contact us

WhatsApp: 082 874 5550

Email: Reveshni Douglas (Editor) at reveshni@caxton.co.za

Make sure you follow us for regular updates:

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button