NewsSchoolsVryheid Herald

VRYHEID KZN: 12 bestaande rekords word stof in die oë geskop

Twee van Pionier se uiteenlopendste leerders op sportgebied het die afgelope tyd na die onderskeie Suid-Afrikaanse byeenkomste deurgedring

Op Maandag, 26 Februarie, het die Pionier-leerders die water by die jaarlikse gala aangedurf. Die weer het mooi saamgespeel totdat ‘n donderstorm laatmiddag uitgebreek het. Ter wille van leerders en personeel se veiligheid is die uitstaande items oornag op ys geplaas en is die gala weer vroeg die volgende oggend (Dinsdag, 27 Februarie) hervat en afgehandel. Die rekords het behoorlik by vanjaar se gala gespat, ‘n uitsonderlike 12 rekords in totaal. Baie geluk aan die volgende leerders wat rekords verbeter het; Pionier is voorwaar trots op julle. Dirk Grobler en sy broer Pierre Grobler verbeter elk vier rekords. Ashley Loch verbeter drie en Zoé Richards een. Dirk Grobler word vanjaar as die Senior Victor Ludorum aangewys. Zoé Richards stap weg as Senior Victrix Ludorum. Jacques Richter is Junior Victor Ludorum en Ashley Loch tree uit as Junior Victrix Ludorum. Baie geluk, julle! Twee van Pionier se uiteenlopendste leerders op sportgebied het die afgelope tyd na die onderskeie Suid-Afrikaanse byeenkomste deurgedring. Op 6 Februarie neem die stewige matrikulant Mundell Brown in Pretoria aan die junior O/20 Stoeiproewe deel en wel in die 97-125kg kategorie. Hy maak dan weereens tydens hierdie kompetisie skoonskip en stoei sy pad oop tot in die finaal, waar hy teen Johan Maritz van Grey Kollege in Bloemfontein te staan kom. Mundell wen 11-0 en verwerf hiermee sy Protea-klere. Hy gaan Suid-Afrika in die O/20 span verteenwoordig die oomblik wat Covid dit toelaat. Natuurlik was alle Covid-maatreëls ook tydens hierdie byeenkoms in plek en is geen toeskouers of ander deelnemers in die saal toegelaat nie. Die stoeimat is ook telkens tussendeur gesaniteer. Mundell is duidelik nie ‘n man om mee moeilikheid te soek nie. Tog is hierdie innemende seun se mees uitstaande kenmerk sy sagte nederigheid. As iemand hom nie terloops uitvra nie, sal ons nooit van sy prestasies weet nie. Pionier is ongelooflik trots op jou, Mundell! Intussen dring Ashley Loch, ‘n Graad 8 Pionier-dogter verbonde aan Vryheid Swemklub, verlede naweek te Richardsbaai deur na die SA Nasionale Junior Swembyeenkoms. Ashley, ‘n swemmer wat ook nou haar staal tydens Pionier se gala gewys het deur ‘n rekord te breek, het aan die Age Group Gala Long Course deelgeneem. Sy neem onder andere aan die 100m vry-, 100m rug-, 4 x 50m bors-, vry-, rug- en vlinderslag deel. Dit is dan ook in laasgenoemde vlinderslag-item waar sy haar persoonlike beste tyd swem, naamlik een minuut, 14 sekondes. Sy kwalifiseer ook hiermee vir die SA-byeenkoms. Geen verdere besonderhede rakende die datum en plek is nog op hierdie stadium bekend nie. Ashley is inderdaad soos ‘n dolfyn in die water! Baie geluk, Ashley. Mag jy nog baie rekords laat spat!

ALSO READ: VRYHEID: Pionier salueer 2020 se matrieks

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

Related Articles

Back to top button