BlogsOpinion

My ‘nuwe’ wiele is al ‘n jaar oud

In 1 jaar het my rolstoel my hele lewe verander - ek is meer onafhanklik, ek kan gaan waar ek wil en dit gee my soveel selfvertroue om dinge op my eie te doen

Hoe gaan dit met almal? Stook julle al julle eie bier? Ek hoor Simba Chips oorweeg dit om ‘chips’ in ʼn ‘Camel’ of ‘Black Label’ geur te vervaardig (grappie).

Hou julle dit nog uit met die Covid-19 krisis? Smaak my ons gaan nog ʼn hele rukkie hiermee te doen hĂª. Suid-Afrika is nou een van die top 10 lande waar die virus die meeste mense besmet het. Ons moet almal nou uiters versigtig wees.

Ten tyde dat ek hierdie rubriek vir julle skryf, het die onderwysunies die Departement van Onderwys nog probeer oortuig om die skole te sluit tot ten minste na die virus gepiek het in Augustus.

Wat het julle vir Mandela-dag gedoen? Ek het ʼn lys van 67 interessante feite van Suid-Afrika gemaak en dit het al in die vorige uitgawe verskyn. As julle nie iets gedoen het nie, het julle daardie nuutgeskepte ‘3TeamCricket-wedstryd’ gekyk waar drie spanne van agt spelers elk in twintigboulbeurt-wedstryd speel om geld in te samel vir liefdadigheid?

Ek het Saterdag gaan gholf speel daar in die berge. Ek was meer as bereid om uit ander se pad uit te bly en my masker en handreinigingsmiddel was byderhand om enige kieme van my af weg te hou. Dit was egter onnodig. Daar was niemand anders nie. Behalwe my familie, het ek net vier hadedas, twee blou-ape en ʼn blesbok raakgeloop.

Ek het hierdie keer eerder met my rolstoel van gholfgaatjie tot gholfgaatjie gery. Dit was nou vryheid om die hele baan te verken en vars berglug in te asem. Elke keer as ek by ʼn ‘green’ kom, klim ek af en ‘putt’ met my spesiale kortgemaakte ‘putter’ die balletjie tot dit in die gatjie beland. Ek is nie juis sleg daarin nie, hoor. As daar so ʼn Paralimpiese item was het ek deelgeneem. As ek klaar gespeel het tel my pa my net op en sit my terug op die stoel en ek ry verder.

Gepraat van die rolstoel. Hierdie week wat verby is het ek die rolstoel al ʼn jaar lank. Kan julle dit glo? Een jaar lank. In een jaar het my rolstoel my hele lewe verander. Ek is meer onafhanklik, ek kan gaan waar ek wil en dit gee my soveel selfvertroue om dinge op my eie te doen. Maak nie saak waar ek myself bevind nie: werk, kerk, staptogte, winkelsentrums, kuierplekke, Kings Park, by ʼn braai, ek probeer altyd om my rolstoel saam met my te hĂª tensy ek weet daar is omstandighede buite my beheer soos rolstoeltoegaanlikheid.

Ek en die stoel kan al baie stories vertel (soos die krapmerke) en daarom het ek besluit om die stoel te karakteriseer. My familie het jare lank ʼn ou Volla uit toeka se dae gehad wat ons ‘Oumie’ genoem het. Ek gaan dieselfde met my rolstoel doen en dit ‘Frikkie’ doop.

Also read: Almal van ons kan doen met ʼn vakansie

Click to receive news links via WhatsApp. Or for the latest news, visit our webpage or follow us on Facebook and Twitter. Join us there!

Related Articles

Back to top button