EntertainmentLifestyle

Paulpietersburg spog met hul ‘plattelandse’ sterre

Die ATKV Paulpietersburg bied 'n genotvolle aand aan

Platteland beteken beslis nie agter-die-bos nie.
Dis hier in een van Vryheid se buurdorpe, Paulpietersburg, waar die ATKV ‘n kuns- en kultuuraand gereël het, om twee van dié dorpie se eie boorlinge ‘n platvorm te gee om hul talente ten toon te stel.
Corné van Rooyen is glad nie ‘n onbekende wanneer dit kom by skryf nie.
Hierdie talentvolle dame het op 26 Oktober haar tiende boek Robynprinses bekend gestel.
Corné het nog altyd as kind ‘n baie lewendige verbeelding gehad, en sy het in Februarie 2016 haar eerste boek Testament van Liefde vrygestel.
Met ‘n LLB graad agter haar naam, en weinig vooruitsigte om te praktiseer weens die ekonomiese klimaat van die land, het Corné besluit om haar liefde vir skryf in ‘n voltydse beroep te omskep.
Na vele probeerslae het Lapa-uitgewers vir haar ‘n kontrak aangebied en nou skryf Corné onder die genre ‘Romanza’.
Robynprinses speel af in die agtiende eeu, Engeland, tydens die era van jong onskuldige meisies en gereëlde huwelike.
In hierdie boek staar die heldin nie net ‘n liefdelose huwelik in die gesig nie, maar word ook ontvoer en staan op die randjie van die dood.
Robynprinses is Corné van Rooyen se eerste ‘Super Romanza’.
Die aand het gepaard gegaan met die talentvolle stem van sangsensasie, Emil Paul.
Emil was ‘n deelnemer van die Suid-Afrikaanse televisieprogram The Voice.
Hy het Francois van Coke se stoel laat draai met sy weergawe van In my blood en dié bekende sanger het hom dadelik deel van sy span gemaak.
Ongelukkig het Emil later in die program uitgeval, maar dit het nie hierdie energieke jong man gestuit nie.
Dit het hom aangespoor tot hoër hoogtes en Emil het twee weke gelede sy album, Begin net oor vrygestel.
Hyself het die album vervaardig, waarvan 11 uit 12 van die snitte uit sy eie pen kom.
Oorspronklike snitte soos Kleurloos en Jou Fotoraam (binnekort word Jou Fotoraam se musiekvideo vrygestel) kom op die album voor.
Die inspirerende woorde, “Where words fail, music speaks,” is hierdie opkomende sanger se lewensuitkyk en motivering.
Paulpietersburg kan trots voel dat twee sulke suksesvolle en talentvolle jongmense uit hierdie klein, plattelandse dorpie gebore is.

 

ALSO READ: Elderly farmer survives savage beating in Paulpietersburg farm attack

Corné van Rooyen met haar nuwe boek, Robynprinses.
Emil Paul met sy nuwe album, Begin net oor.

 

Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates

Related Articles

Back to top button