Westdene se Lizz Meiring oor rol in ‘magiese’ Roets-film

WESTDENE – Hoener met die rooi skoene begin op 27 Januarie in rolprentteaters draai.

Dis nie ‘n kinderstorie of ‘n feëverhaal nie. Ook nie ‘n drama nie. Nee, die nuwe fliek, Hoener met die rooi skoene, is ‘n riller-komedie wat kykers gaan laat regop sit, ril en skater van die lag.

En in die vroulike hoofrol is Bonnie van der Byl, vertolk deur die diverse aktrise – Westdene se eie Lizz Meiring.

Die Northcliff Melville Times het met haar gesels oor haar hoofrol in Koos Roets, Van ‘n Pawpaw Vir My Darling-faam, se nuwe film. Meiring vertel van Bonnie se klein wêreld waar moordstories en rillers deel van haar amper-fantasie wêreld is. Sy het ‘n papegaai, Napoleon, wat Meiring gehoor het steeds die akteurs se stemme namaak.

“En sy praat non-stop. Tagtig persent van die hele film se dialoog was myne,” het sy gesê.

Bonnie, ‘n ontvangsdame by ‘n teateragentskap, vertel Meiring, kom op haar baas, vertolk deur Deon Lotz, se lyk af. Sy val vlou en ontwaak met die polisie op die toneel. Daar is wel nou net een probleem – die lyk is nie meer daar nie.

Hiermee is die tafel gedek vir ‘n spannende, skreeusnaakse riller-komedie waarin Bonnie met die bekkige Napoleon en die hoogs-beneukte, geïrriteerde en grieperige Speurder-Kaptein Hendrik Greyling, vertolk deur Louw Venter, sentraal staan.

“Dis ‘n aweregse, slimsnaakse moordstorie met soveel fyn kinkels dat jy jou asem gaan ophou terwyl jy heerlik lag. Die karakters is uniek en Hoener met die rooi skoene is oorspronklik en magies. Net so fassinerend en eksentriek soos die onontdekte, juweeldorpie waar ons verfilm het – Klaarstroom, weggesteek in die hart van die Klein Karoo,” vertel Meiring.

Sy en die res van die akteurs – onder andere die legendariese Linda Botha, Dorette Potgieter, Laré Birk, Geon Nel, Flip Theron en André Weideman – wat in die film gesien gaan word, het laas jaar Mei in die stil dorpie, terwyl hulle die film geskiet het, gebly.

Die bekroonde regisseur vertel dat die fliek nie ‘n tipiese slapstick-komedie is nie.

“Niemand gooi iemand anders met ‘n pastei nie. Die humor en snaakse insidente is toevallig. En die karakters eg, mense wat werklik kan bestaan.”

Hoener met die rooi skoene word op 27 Januarie landswyd vrygestel en versprei deur Ster Kinekor Entertainment.

Bonnie, vertolk deur Lizz Meiring, en Kaptein Hendrik Greyling,vertolk deur Louw Venter. Foto: Eunice Visser.

Details: Starburst Promotions by www.starburstmusic.co.za.

Exit mobile version