EntertainmentLifestyle

Jannie du Toit sing nog liedjies

MELVILLE - Sanger, Jannie du Toit se nuutste CD op die winkelrakke.

Musieklegende Jannie du Toit, ‘n bekende in die woonbuurt, is nog lank nie klaar met sy loopbaan van meer as 40 jaar nie. Hy het onlangs sy nuutse CD, Jannie du Toit chante/sing/sings/zingt Brel bekendgestel.

Du Toit sit gemaklik op ‘n groen tuinstoel by sy gastehuis in Melville. Hy gesels opgewonde oor sy nuwe projek. Op hierdie 22-snit CD sing hy liedjies van sanger en liedjieskrywer, Jacques Brel in vier tale: Afrikaans, Engels, Frans en Nederlands.

Hy vertel dat hy sedert die 1990s opnames gemaak het van Brel se liedere saam met die pianis, Christa Steyn, ‘n goeie vriendin. “Ek hou baie van Brel se musiek. Dit is musiek met woorde deur filosowe en digters. Ek wil na die woorde van mense met goeie idees luister.” Die grootste uitdaging van hierdie CD was die feit dat die liedjies in vier tale gesing en vertaal is. “Dit is moeilik om die liedere se gedagtes so oor te dra in al vier tale.”

Volgends hom is Brel se musiek tydloos. “Brel word in Frankryk as ‘n chansonnier [liedjiesanger] beskou. Hulle noem hom die beste liedjieskrywer van die 20ste eeu.” Hy noem verder dat die liedjies lewenswaarhede bevat.

Du Toit het in sy eerstejaar by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) ‘n musiekgroep met die naam van Trilogie gestig. “In 1975 het ons ‘n seven-single plaat vrygestel en in 1976 het ons by die American Song Festival ‘n toekenning gewen.” Du Toit het regte gestudeer, maar besluit in 1980 hy wil ‘n voltydse musikant word. Sy eerste langspeelplaat, ‘n Liedjie vir Jou, is in 1981 vrygestel.

“My grootste droom is om aan te hou om musiek te maak en dat mense sal aanhou luister.” Du Toit vertel dat hy nie ‘n kommersiële kunstenaar wil wees nie, maar wil maak wat sy siel aanraak en sy hartsnare roer.

“Tot dusver is die reaksie op die CD baie goed.” Jannie du Toit chante/sing/sings/zingt Brel is reeds op winkelrakke beskikbaar.

Related Articles

Back to top button