EntertainmentLifestyle

Kansvattersnitte op Richard se nuwe album

AUCKLAND PARK - Richard van der Westhuizen het sy opwindende nuwe album, Yster en Vuur, onlangs bekendgestel.

Ná meer as 35 jaar en vele albums en enkelsnitte, het een van die land se mees gesoute Afrikaanse sanger-liedjieskrywers, akteur en stemkunstenaar, Richard van der Westhuizen, sy nuutse, “waaghalsige” album uitgereik.

Van der Westhuizen het vroeër vandeesmaand sy CD Yster en Vuur by die Suid-Afrikaanse Uitsaai Korporasie (SABC) in die ateljee van Radio Sonder Grense (RSG) bekendgestel.

Sedert sy albumdebuut met Tussen Treine in 1991 het Richard die Afrikaanse musiekskat verryk met sy albums Ballade vir ‘n Enkeling, Vuurklip, Dorsland, Songs uit my Binnesak, Swerwerspoor en Tydloos.

Gerhard Steyn en Richard van der Westhuizen sing Tussen Treine:

Die nuwe album bevat 13 oorspronklike komposisies. Alles – behalwe Renoster en Duiwelskloof – is uit sy eie pen.

“Soos met my vorige albums is elke deeltjie met groot sorg aanmekaar gesit. Die liedjies is ryper en meer waaghalsig in woord én musiek. Ek kon nogal kanse vat met die skryf daarvan. Dit kom seker maar met die ouderdom,” het hy gesê. Yster en Vuur, bestempel met Van der Westhuizen se boeiende verwerkings, het ontstaan toe Van der Westhuizen ‘n vrag nuwe idees gekry het en aan elf nuwe liedjies begin skryf het.

“Baie van die liedjies is anders as my vorige werk, maar daar is nog twee of drie ballades,” het hy gesê.

Van der Westhuizen voel hy is nou oud genoeg om te sê “De hel met dit alles, ek kan skryf wat ek wil en wat vir my belangrik is”.

“Jy moet so eerlik as moontlik met hierdie goed te werk gaan. Daar is atmosfeer en ‘n storie in elkeen van die liedjies”.

Reën vir die droë grond is ‘n voorbeeld van so ‘n lied. Hoewel Van der Westhuizen glo dis nie ‘n stamptreffer nie, is dit sy gunsteling lied.

“Dis nogal ‘n persoonlike lied. Vir mense wat wonder oor stilte, inspirasie en die misterieuse plek waar liedjies vandaankom,” hê hy gesê.

Van der Westhuizen vertel ook na soveel jare probeer hy pret hê met woorde, veral die wat nog nie deur stamptreffers beetgekry is nie. En dis die raad wat hy vir aspirante kunstenaars kan gee.

“Al is dit moeilik, probeer anders, oorspronklik en uniek wees”.

Yster en Vuur is reeds op musiekrakke beskikbaar.

Verwante artikels:

Jooste kies ‘n nuwe koers 

Vashawn Mitchell thrills his fans

Related Articles

Back to top button