Rolspeel is in haar bloed

MELVILLE – Melville inwoner vertel van haar rol in nuwe teaterproduksie asook haar liefde vir teater.

Die Afrikaanse teaterproduksie Daa’ Gat die Bruid het onlangs teatergangers by die Roodepoort-teater laat skaterlag.

Debré Rossouw wat die karakter van die bruid Judy Ackermann vertolk het, het onlangs met Northcliff Melville Times gesels oor haar lewe as opkomende aktrise.

Debré Rossouw hoop om in meer rolprente te speel.

Rossouw het vertel die 21-jarige Judy is soos enige ander jong meisie wat al jarelank droom van haarself in ‘n wit rok op haar troudag. “Judy is jonk en verlief op Niel Ackerman en sy wil net met hom trou. Sy werk hard om die troue gereël te kry, maar daar gebeur egter ‘n paar skreeusnaakse dinge wat die troue so ‘n bietjie vertraag,” het Rossouw gesê.

Rossouw het haar graad in drama in 2006 aan die Universiteit van Pretoria verwerf met ‘n honneurs in kabaret. Sy het al in talle teaterproduksies gespeel en vertolk ook die rol van Blommie in Lefra Produksies se Liewe Heksie. “Ek is lief vir teater omdat dit so immediate is. Die gehoor is dadelik intiem betrokke,” verduidelik Rossouw.

Marga van Rooy en Debré Rossouw. Van Rooy speel die rol van Rossouw se ouma in Daa’ Gat die Bruid.

Die liefde vir rolspeel en aktrise-wees is egter geen verassing nie omdat Rossouw se ouers altwee in die kunste is. “Mens kan eintlik sê dat ek op ‘n verhoog begin het omdat my ouers op die verhoog ontmoet het.” Sy vertel dat haar pa op ‘n afspraak moes gaan met ‘n ander vrou, maar nadat dit gekanselleer is, het hy in haar ma vasgeloop agter die skerms van die destydse produksie, Loeloeraai. “So, teater is in my bloed.”

Rossouw het bygelas dat sy ook self later die jaar trou met Frankie Opperman, die seun van die bekende akteur, Frank Opperman. “Daa’ Gat die Bruid is ‘n goeie toetslopie vir my eie troue, ek hoop net dat my troue nie so skeefloop nie,” lag Rossouw.

Hierdie jong, rooikop aktrise hoop om nog haar deurbraak in die televisie- en filmbedryf te maak. “Ek sal selfs agter die skerms werk, want dan kry mens waardering vir dit wat daardie mense wel doen,” het Rossouw afgesluit.

Related articles:

Bad boy turned good, in new film 

 

Exit mobile version