SA ster Zak Hendrikz loer in by Linden

LINDEN – Zak Hendrikz het by Hoërskool Linden ingeloer om sy nuwe fliek, Thys en Trix, bekend te stel.

Suid-Afrikaans akteur Zak Hendrikz het op 14 Mei by Hoërskool Linden sy nuutste rolprent, Thys en Trix, bekendgestel.

Leandie du Randt-Bosch en Bouwer Bosch vertolk die hoofrolle in dié aksiekomedie. Thys en Trix is broer en suster en ook ywerige, maar onbeholpe, polisiemanne.

 

Zak Hendrikz saam met ‘n paar Hoërskool Linden aanhangers op 14 Mei.

 

Vanweë hulle ‘vanilla-voorkoms’ word die broer-en-suster paar vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ‘n ondersoek te lei na die bedrywighede van ‘n dwelmsindikaat in ‘n eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai.

Kragpaar Chandré en André, gespeel deur Hendrikz, gay-kunshandelaars Stephán en Gerhárd, ‘hippie-swingers’ Ben en June en die jong weduwee Heidi, is Thys, Trix en Solomons se nuwe bure.

Kyk na die lokprent hier

Die rolverdeling sluit ook in Brendon Daniels, Dorette Potgieter, Charlie Bouguenon, Deon Coetzee, Ivan Zimmerman, Chanelle de Jager en Carine Rous.

Marianne Gouws, Hoërskool Linden se bemarkingsbestuurder, vertel dat die skoolkinders dit altyd geniet om vermaaklikheidsterre by die skool te sien en saam met hulle foto’s te neem.

“Hoërskool Linden stel belang in aktuele sake en raak graag betrokke by gebeure in die gemeenskap. Kultuur is ‘n groot dryfkrag in ons skool en ons ondersteun graag kunstenaars en vermaaklikheidsterre,” sê sy.

Die film is vervaardig onder leiding van Danie Bester van The Film Factory en bekroonde regisseur, Quintin Krog van Vir die Voëls en Ballade vir ‘n Enkeling-faam sorg vir die regie.

Thys & Trix word landswyd op 22 Junie deur Ster-Kinekor Entertainment vrygestel.

LEES OOK: Hoërskool Linden defeats Hoërskool Randburg in Classic Clash 

Exit mobile version