71 gelukkige huweliksjare vir Fairland-egpaar

FAIRLAND – Die egpaar het mekaar meer as 71 jaar gelede ontmoet in Johannesburg.

So hoog soos die bome wat hulle dekades gelede in hul tuin geplant het, so blom Danie (91) en Babs (89) Ouwenkamp se liefde vir mekaar.

Die Ouwenkamps het op 10 Mei hul 71ste huweliksherdenking gevier. Na al die jare is die egpaar nog net so geseënd en gelukkig as toe hulle in 1947 trou aan mekaar beloof het.

Die tweetjies het mekaar in 1945 op ‘n bus, waar Danie as kondukteur gewerk het, ontmoet.

Vir Danie was dit liefde met die eerste oogopslag. Hy het begin ogies maak en wou sommer dadelik gaan kuier, maar Babs wou aanvanklik niks daarvan weet nie. ‘n Paar dae het sy uiteindelik ingestem tot die kuiertjie.

Danie, toe 20 jaar oud, en Babs 18, is op 10 Mei 1947 in die huwelik bevestig.

Hy het deeltyds verder studeer en het later onderwyser geword. Babs is ‘n huisvrou. Uit die huwelik is twee dogters gebore.

Hulle is ook geseën met twee kleinseuns en twee agterkleinseuns.

Danie het baie terugslae met sy gesondheid beleef maar omdat hy altyd positief en vrolik is, het hy hom nie laat onderkry nie.

Die egpaar bly sedert 1964 in hul eie huis in Fairland waar hulle die pot aan die kook hou met die hulp van ‘n tuinier. Hulle onthaal graag vriende en familie.

Vir hul 71ste herdenking het hulle alles self gereël en saam met familie en vriende ‘n aangename dag deurgebring.

Hul wenk vir so ‘n lang en gelukkige getroude lewe is eenvoudig: Sien die positiewe in mekaar raak – nie die negatiewe nie.

LEES OOK: GALLERY: An elderly couple celebrates 70th wedding anniversary 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version