Geen rugbytruie op die rooitapyt van Modder en Bloed film nie

JOBURG – Sterre opgewonde en vol lof vir nuwe Afrikaanse drama met die film premiére.

Dit was ‘n aand van formele rokke en strikdasse, vyfster kos en goeie musiek, opgewonde gaste en kameraligte wat flits. Dit was in sterk kontras met die pyn, emosie en hartseerverhaal van die rolprent, Modder en Bloed.

Die premiére van die rolprent is op 10 Maart by The Zone in Rosebank gehou en tientalle bekendes en hulle metgeselle het dit bygewoon. Die 12 Mej. Suid-Afrika-finaliste het ook ‘n draai kom maak. Die gaste, geklee in formele aanddrag, se verwagting vir die rolprent was groot.

Die meeste akteurs wat in die rolprent speel, het die première bygewoon. Gustav Gerdener van Linden speel die rol van Eddie Mijnhardt, een van die gevangenes op die eiland. “Hy is ongelukkig een van die negatiewe karakters in die film. Hy is een van die boereleiers wat al baie lank op die eiland is en glo dat hulle nie hierdie omstandighede kan oorkom nie,”

sê Gerdener.

Jaco Muller van Strubensvallei het die premiere saam met sy verloofde, Gerda Groenewald bygewoon. Hy speel die rol van Giepie ‘Rot’ Nel, die mens na wie almal gaan as hulle iets nodig het. Sy rol is komieklik met al sy snaakse sêgoed.

“My karakter is ‘n survivor. Hy wil oorleef en dit gaan oor hom,” sê Muller.

Sy verloofde was die eerste-assistent-grimeerkunstenaar op die stel. Daniel ‘Yster’ Malherbe, of te wel Altus Theart van Melville, en sy vrou, Zetske het spoggerig gelyk op die rooitapyt.

“Ek het butterflies. Ek is op my senuwees, maar ek is baie opgewonde,” het Theart gesê. Theart speel ‘n groot rugbykenner in die rolprent en het gesê hy ondersteun steeds die Stormers al woon hy in Johannesburg. “Ons het alle tipe films nodig, maar Suid-Afrika het veral so ‘n film nodig, omdat daar nog nooit so iets was nie. Ons is reg vir so ‘n storie,” het Zetske gesê.

“I have been to Africa before and fell in love with the place,” het Charlotte Salt gesê.

Volgens Salt wil sy terugkeer na Suid-Afrika om vakansie te hou en nie net te werk nie. Sy glo die film het beslis die potensiaal om talle nasionale en internasionale pryse los te slaan. Modder en Bloed begin 1 April in teaters draai.

Related articles:

Sterre weggevoer na eiland in die stad 

Exit mobile version