EntertainmentEntertainment galleriesGalleriesLifestyle

Sterre weggevoer na eiland in die stad

SANDTON – Nuwe film, 'Vir Altyd', gevier in egte eilandstyl met 'n glansaand soos min.

Die première van die film, Vir Altyd, het talle bekendes en hulle metgeselle op ‘n reis na Mauritius geneem. Die spreekwoordelike rooitapyt is in ‘n ‘sandtapyt’ verander en die gewone aandrokke en hakskoene is verruil vir blompatrone en sandale op 4 Februarie by Cedar Square in Fourways.

Die hoofspelers en skrywers van die film, Donalee Roberts en Ivan Botha, se opwagting was groot. Roberts het die hoofrol ook op die tapyt vertolk in haar Vesselina Pentcheva-skepping. “As Suid-Afrikaanse filmmakers was dit vir ons ‘n onbeskryflike voorreg om ‘n Suid-Afrikaanse film internasionaal te maak,” sê Roberts.

André Stolz van Westdene is al jare akteur. Hy vertolk die rol van die geliefde Dominee Willem. “Om in die Paarl te kon skiet was so wonderlik. Die mense is die mees ongelooflike mense.” Hy noem ook dat dit in sy lang loopbaan slegs die tweede keer is wat hy ‘n romantiese rol vertolk. “Dit lyk my nou eers in my ouer jare kry ek die geleentheid om die romantiese kant van myself bloot te stel.” Hy sê die jong talent in Suid-Afrika is ongelooflik. “Dit is soos ‘n nuwe, vars briesie wat waai,” sê ‘n laggende Stolz.

Die komediant, Sans Moonsamy van North Riding, het mense laat skater van die lag as die toergids Sylvan met ‘n Franse aksent. “Dit was seker die beste werkende vakansie wat mens ooit sal hê. Ek hoop mense lag vir my in hierdie film.” Moonsamy se vrou Keru Kisten las by dat sy geweet het hy sal die rol kan vertolk, omdat sy aksente so goed is. Moonsamy sê hy sien nou uit na die geboorte van hul baba oor ‘n paar maande.

Stiaan Smith vertolk die rol van Retief in hierdie film.”Hierdie span was so lekker om mee saam te werk. As ‘n man kan jy jou meisie of ma vat om die film te kyk en self dit ook geniet. Dit is ‘n Afrikaanse film wat grense verskuif.”

Benewens die karakters in die film het talle Afrikaanse glanspersoonlikhede ook hulle opwagting gemaak. ‘n Aand van goeie musiek, kos en ‘n puik film.

Lees meer:

Bekende aktrise opgewonde oor nuwe film 

Related Articles

Back to top button