Zahn met haar fluweelsagte stem kry drie benoemings

“Ek moes al harde klippe kou in die bedryf so die nominasies beteken baie vir my, dit voel eintlik onwerklik.”

Die Centurion-sangeres Zahn maak ’n groot impak in die plaaslike musiektoneel met haar warm diep sjokoladestem.

Zahn is in drie kategorieë genomineer vir die 2023 South African Independent Artist Music Awards (Afri-Indie-toekennings) vir haar jongste enkelsnit, “Somerson”, in Beste Pop-enkelsnit, Beste Volwasse Kontemporêre Enkelsnit, en Beste Vokalis.

“Dit voel out of this world!” het sy aan Rekord vertel.

Oor die afgelope dekade het Zahn bekend geword vir haar lewendige popmusiekvertonings en haar diep strelende stem.

Zahn het in 2019 gedebuteer met haar eerste album Masker wat goed ontvang is deur plaaslike musiekaanhangers. Sedertdien het sy verskeie enkelsnitte vrygestel, insluitend “’n Hart weer heelmaak”, “Dis hoe jy die wêreld verander” and “Vergifnis lei na vrede”.

Haar nuutste enkelsnit “Somerson” neem mens in ’n gelukkiger, meer lewendige rigting nadat haar vorige trilogie moeilike onderwerpe ondersoek het om met haar eie genesingsproses te help. Sy het haar musiek gebruik om vergifnis en vrede deur haar liedjies te vind.

Vir haar jongste enkelsnit het Zahn haar ritmiese pen by dié van die sangers Ruan Tennant en Roux Cloete gevoeg en die resultaat was “Somerson” – ’n ligter liedjie wat ’n metafoor is vir ’n gelukkige warm plek.

Zahn is ’n stem wat al lank in die musiekbedryf aanklank vind en sy sal nie gou stilbly nie. Met “Somerson” sal sy beslis ’n nuwe paar musikale harte verower.

Somerson, Zahn se nuwe enkelsnit.

Zahn het met Rekord gesels oor haar jongste prestasie om by die Afri-Indies genomineer te word.

Hoe voel dit om met hierdie nominasies erken te word, en werk jy met doelwitte soos hierdie nominasies in gedagte?

Ek het eerlikwaar dit nie verwag nie.

Ja, mens hoop maar altyd jou liedjie wat jy vrysgestel het doen goed en jou werk word raakgesien, maar dis nie altyd so nie – ek moes al harde klippe kou in die bedryf so die nominasies beteken baie vir my, dit voel eintlik onwerklik.

Dis ’n mylpaal en ’n groot eer om genomineer te word deur Afri-Indie.

Jy werk op die voorste linies van die plaaslike musiektoneel, wat sou jy sê is van die lesse wat jy geleer het deur musiek regstreeks te maak?

Altyd positief te bly jou alles te gee, om nie te laat slaplê nie en jou mikpunte in sig te hou en gefokus te bly. Gerugte is nie altyd waar nie, en mens moet nie luister na ander mense se negatiewe opinies oor jou nie.

Behandel almal met dieselfde respek orals waar jy gaan en bly altyd nederig. Moet ook nie betrokke raak in skinderstories nie. Nie almal wat in jou gesig glimlag is jou pêl nie.

Stay true to who you are!

Sommige sê dat Pretoria ’n klein dorpie-stad is, hoe het Pretoria jou as kunstenaar behandel?

Ek het nog altyd ondersteuning gehad met vertonings. Meeste van die venues was nog altyd genadig, meeste van my ondersteuning kom van Pretoria af, en ek het baie mense ook al ontmoet in Pretoria wat vriende geraak het.

Mens het maar jou ups and downs, mense was al baie lelik soos om te sê ek mime en lip-sync, wat glad nie waar is nie, en ek al vertonings verloor het as gevolg van die gerugte. Dan het ek weer mense gehad wat al baie nice was deur saam my te staan, en op te staan, vir my te ondersteun in my challenging tye.

Dis onvoorspelbaar soms, maar dit hou dinge interessant en daar is nooit ’n vervelige oomblik nie.

LEES OOK: Malgisedek ’n onooglikheid vir Moot-inwoners

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version