KOMPETISIE: Steve tree op by Weiveld, wen kaartjies

Steve Hofmeyr is 1 April by Weiveld, maak seker jy is daar.

Na ‘n moeilike jaar van die inperking, is dit weer tyd om jou skoene af te skop en Afrikaanse musiek te geniet.

Steve Hofmeyr gaan 1 April op verhoog te siene wees by die bekende Weiveld in Pretoria oos, en Rekord gee twee dubbelkaartjies weg aan ‘n gelukkige leser.

Alle kunstenaars en musiekondersteuners se paaie lei nou na groener weivelde met die bekendstelling van Weiveld Teater – ’n uitbreiding van die gesogte dans- en kuierplek, Weiveld, in die ooste van Pretoria.

Die vermaaklikheidsbedryf het die afgelope jaar wipplank gery en was telkemale in sak en as, as gevolg van Covid-19-regulasies wat die hoeveelheid persone by ’n sosiale geleentheid beperk het.

“Met Weiveld Teater wil ons nou die geleentheid vir kunstenaars skep om op te tree en weer ’n inkomste te genereer,” sê Mihai Nicolau, van Bronberg Hub, waar Weiveld geleë is.

“Dit is kleiner en intiem en voldoen aan die nuwe, hersiende beperkinge wat op Sondag, 28 Februarie aangekondig is,” het hy bygevoeg.

Die program vir April skop op ’n hoogtepunt af met Steve Hofmeyr op Donderdag, 1 April.

“Ek is verheug om bietjie uit te kom en weer saam met my mense te kuier. En dit by Weiveld in Pretoria! Kom jol saam met my op 1 April en wys die virus wie’s baas,” sê Hofmeyr opgewonde.

Sy seun, Armand Hofmeyr, sal ook in aksie wees as voorprogram en dit beloof om ’n aand van musiekgenot van begin tot die einde te wees.

Afrikaanse musiekliefhebbers wat uitgehonger is om al hul gunsteling kunstenaars weer in lewende lywe te ervaar, gaan moet wikkel om hul kaartjies betyds vir dié konserte te kry.

Kunstenaars na wie daar nog uitgesien kan word vir April-maand is APPEL op Donderdag, 15 April en Roan Ash op Donderdag, 29 April.

Vertonings bied die volle teater-ervaring. Streng Covid-19-protokolle sal ten alle tye gevolg word. Deure vir die vertoning open om 18:00 met die voorprogram, met Armand Hofmeyr, wat om 19:00 begin en Steve Hofmeyr om 20:00.

Kaartjieverkope het reeds geopen teen R330 per persoon en dit sluit ’n verwelkomingsdrankie deur Ginnic in. Verskeie spyskaart-opsies van Bronberg Restaurant sal beskikbaar wees met ’n kontantkroeg.

Kaartjieverkope het reeds geopen en kan by Tixsa bespreek word. Kliek hier. 

KOMPETISIE:

Rekord het twee dubbel kaartjies om weg te gee na die vertoning. Om in te skryf, vul die onderste inskrywingsvorm in en gebruik ‘STEVE WEIVELD’ as die sleutelwoord.

 

Exit mobile version